On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

5 jaar ná Potchefstromer se ontvoering berus vrou in sy dood

───   12:48 Wed, 22 Nov 2023

 5 jaar ná Potchefstromer se ontvoering berus vrou in sy dood | News Article
’n Vorige foto van Amanda en Christo Bothma. Foto: Go Get Funding

‘Om hom dood te laat verklaar is deel van ons gesin se pad na afsluiting.’

Vyf lang, moeilike jare nadat Christo Bothma van Potchefstroom in Burkina Faso deur Al-Kaïda ontvoer is, het sy vrou, Amanda, uiteindelik berusting gekry dat hy wel dood is. Sy het haar na die hooggeregshof in Mahikeng gewend om hom dood te laat verklaar.

“Ek erken dat dit vir ons, as gesin en vir myself belangrik is om te leer om die lewe te leef met die wete dat Christo vermoedelik nie meer met ons is nie, selfs in die afwesigheid van sy oorskot,” het sy aan News24 gesê.

Christo Bothma is in 2018 in Burkina Faso ontvoer. Foto: Go Get Funding

Bothma (toe 53) het as passer-en-draaier by die Inata-myn in Burkina Faso gewerk toe hy op 23 September 2018 saam met die 26-jarige seun van die myneienaar in ’n lokval gelei, gekaap en ontvoer is. Vroeg in 2020 is die nuus bekend gemaak dat die seun ná die betaling van ’n losprys vrygelaat is.

Die humanitêre organisasie Gift of the Givers het ingespring en met onderhandelinge probeer om Bothma huis toe te bring, maar is in 2019 ingelig dat hy dood is. Die omstandighede van sy dood is nie duidelik nie.

‘Sy ontvoerders het R1,7 miljoen geëis vir bewyse dat hy dood is’

Amanda toon in hofdokumente aan dat Akoliya Patel, die myneienaar, vir haar prokureurs gesê het dat hy glo haar man is deur Al-Kaïda vermoor nadat hy in ’n struweling betrokke geraak en een van sy ontvoerders se vuurwapen gegryp het. Daar is ook sprake dat hy tussen Maart en April 2019 weens swak gesondheid dood is.

“Christo se ontvoerders het R1,7 miljoen geëis vir bewyse dat hy dood is. Ek is deur Gift of the Givers afgeraai om so 'n losprys te betaal, want bewyse van sy dood kan enigiets wees en nie noodwendig Christo se oorskot nie," sê sy.

Sy glo nou dat haar man in die Sahara-woestyn begrawe is en berus daarin dat sy geliefdes hom nooit in sy geboorteland ter ruste sou kon lê nie. Om hom dood te laat verklaar is deel van haar en haar gesin se pad na afsluiting.

Burkina Faso is ’n land in Wes-Afrika wat omring word deur ses ander lande nie en nie toegang tot die see het nie. Kaart: Wikipedia

Volgens News24 het die polisiebeampte in beheer van haar man se saak opgemerk dat hoewel daar inligting bestaan dat hy dood is, hulle nie die lêer kan toemaak nie omdat daar geen bewyse is dat hy dood is nie. “Vir al wat hulle weet is Christo nog lewendig,” sê sy. “Dit is hoekom ek besluit het om die hof te nader.”

TimesLive het in 2020 berig dat dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, gesê het dat twee onafhanklike bronne in 2019 bevestig het dat Bothma dood is. ’n Boodskap wat hy aan die gesin gestuur het, lui: “Albei ons tussengangers het vandag, onafhanklik van mekaar gebel, een van Niger en die ander een van Mali.

‘Ons weet steeds nie hoe en wanneer Christo heengegaan het nie’

“Ek vra verskoning hiervoor, maar albei het bevestig dat Christo oorlede is. Ons weet steeds nie hoe, wanneer en onder watter omstandighede Christo heengegaan het nie en ons het geen rede om die boodskap te betwyfel nie, aangesien albei ons kontakte uiters betroubaar is. 

“My innige meegevoel met die familie.”

Amanda se hofaansoek word volgende week aangehoor.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen  Daphné/Morné


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.