On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight OFM
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Woede, frustrasie oor droë krane in noorde van Bloemfontein

───   HEIDRÈ MALGAS 14:19 Mon, 04 Dec 2023

Woede, frustrasie oor droë krane in noorde van Bloemfontein | News Article

“Die waterverskaffing en –kapasiteit het glo skielik in duie gestort.”

Die benarde watersituasie in Bloemfontein se noordelike voorstede veroorsaak frustrasie vir inwoners tydens die hittegolf. 

“Die waterverskaffing en –kapasiteit het glo skielik in duie gestort,” het Sello More, stadsbestuurder van die Mangaung-metro, Maandag (4/12) op ’n mediakonferensie gesê. Hy het die noodsaaklikheid benadruk om die instandhouding van die waterinfrastruktuur te ondersoek.

Bloemfontein ervaar dié tyd van die jaar hoë waterverbruik, maar die hittetoestand plaas meer druk op die stelsel, sê More.

Die metro het watertenkwaens voorsien as ’n tydelike oplossing en munisipale werkers is ook besig met tydelike opknapwerk aan die infrastruktuur. Noodherstelwerk word gedoen aan die pompe in Maselspoort en in die gebiede wat die ergste deurloop onder wateronderbrekings.

Hoewel die watertoevoer herstel is vir die meeste gebiede, ly sommige gebiede in die noorde van Bloemfontein nog onder swak of geen watertoevoer. Tydelike opknappings van die pompstasie sal na verwagting einde vandeesweek afgehandel wees. Die watertoevoer sal na verwagting teen Donderdag stabiel wees.

Qondile Khedema, woordvoerder vir die metro, sê in ’n verklaring die opgaarvlakke by Hamilton verbeter. Nadat die kragtoevoer Sondagmiddag (3/12) herstel is ná Centlec se beplande onderbreking, is die Maselspoort-waterbehandelingsaanleg onmiddellik  weer aangeskakel. Die grootwaterverskaffing by die aanleg het verbeter en die Hamilton-reservoir staan nou op 53%, terwyl die kapasiteit van die Arboretum-reservoir steeds toeneem.

Khedema sê die vlakke van opgaardamme in Heuwelsig, Pentagon Park en Spitskop sal na verwagting ook binne ’n dag of twee verbeter.

Watertenkwaens sal na dié gebiede gestuur word:

  • Heuwelsig: Spar-sentrum.
  • Wild Olive Estate: tussen die CRC-kerk en Northridge Mall.

Gefrustreerde inwoners het hul bekommernis op Facebook uitgespreek. ’n Inwoner sê wanneer daar wel water is, ruik dit soos rioolvuil en waarsku mense moet versigtig wees wanneer hulle die water gebruik. 

OFM Nuus/Heidrè Malgas            Daphné/Corné

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.