On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Mensehandel: Kinders in Kimberley bevry, asook 133 slagoffers by Beitbrug – VIDEO

───   14:30 Fri, 08 Dec 2023

Mensehandel: Kinders in Kimberley bevry, asook 133 slagoffers by Beitbrug – VIDEO | News Article
Die groep van 14 kinders wat Maandagaand in Kimberley deur die polisie onderskep is. Foto: Skermgreep/Facebook

“Hierdie mense sal heel waarskynlik gedeporteer word.”

Die polisie in Polokwane, Limpopo, het tien minibustaxi's met 133 volwassenes en onbegeleide kinders by die Beitbrug-grenspos in Musina onderskep. Hulle is vermoedelik die slagoffers van mensehandel.

Dit volg nadat lede van die nuutgestigte Grensbestuursowerheid verlede week 42 busse met altesame 443 onbegeleide kinders van Zimbabwe by die Beitbrug-grenspos in Musina, Limpopo, onderskep het.

Tien minibustaxi’s met 133 vermeende slagoffers van mensehandel is naby die Beitbruggrenspos voorgekeer. Foto: Jabulani Baloi/SAUK

Vroeër vandeesweek is 14 minderjarige kinders, vermoedelik óók slagoffers van mensehandel, in Kimberley onderskep. Die bus was van Gauteng op pad na Kaapstad.

’n Passasier op die bus het opgemerk dat die kinders nie opgewonde of raserig was nie, soos kinders sou optree wanneer hulle met vakansie gaan. Hulle was glo baie stil, en ’n ander passasier het opgemerk dat wanneer die bus langs die pad stop, die kinders nie uit die bus klim nie.

Hierdie passasier het ’n familielid in Kimberley gewaarsku om die polisie te bel en die bus te deursoek tydens hul stop in Kimberley.

Die polisie het dadelik opgetree en in gewone klere opgedaag. Die bus is deursoek.
Die kinders is glo ontvoer en het mekaar nie eens geken nie. Hulle is tans in ’n plek van veiligheid in Kimberley en sal binnekort met hul families herenig word.



‘Alle betrokke rolspelers werk saam om oor lot te besluit’

Hlulani Mashaba, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan die SAUK gesê alle betrokke departemente werk saam om oor die lot van die slagoffers te besluit voordat daar teen diegene wat by mensehandel betrokke is, opgetree gaan word.

“Ons het tien taxi's langs die N1-hoofweg buite Polokwane onderskep, met 133 kinders en volwassenes wat vermoedelik slagoffers van mensehandel is. Ons het al die rolspelers, insluitend die Departement van Binnelandse Sake, ontbied sodat hulle kan vasstel waar hulle vandaan kom. Hierdie mense sal heel waarskynlik gedeporteer word,” sê hy.

Bianca van Aswegen, ’n kriminoloog verbonde aan Missing Children South Africa, sê in ’n onderhoud met die SAUK die 443 onbegeleide kinders wat deur die Grensbestuursowerheid onderskep is, “is net die oortjies van die seekoei”. Die kinders was almal agt jaar en jonger.

‘Enigeen kan ’n slagoffer word’

“Mensehandel is nie nuut nie, maar het sedert Covid-19 aansienlik toegeneem. Baie mense het hul werk verloor en weens desperaatheid slagoffers van valse werksadvertensies geword. Slagoffers word vir seksuele uitbuiting of dwangarbeid gebruik.” Van Aswegen sê bewusmaking, nie net onder tieners nie maar ook onder volwassenes, is baie belangrik. “Enigeen kan ’n slagoffer word.”

Intussen het ’n man en ’n vrou in die streekhof in Kimberley op aanklagte van mensehandel verskyn nadat 14 kinders tussen 6 en 14 jaar oud Maandagaand deur lede van die Valke in Kimberlery onderskep is. News24 berig hulle het aangevoer dat hulle die kinders na hul ouers in Kaapstad vergesel het.

Tebogo Thebe, woordvoerder van die Valke, sê hulle word oorval deur oproepe van mense wat aanvoer dat hulle die ouers van dié kinders is. “Ondersoeke is aan die gang om te bepaal of dit wel die waarheid is.”

Die saak is tot 14 Desember uitgestel. Die twee beskuldigdes bly in aanhouding.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen CG


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.