Central SA
Polisie vra om hulp in soektog na vermiste Odendaalsrus vrou─── 09:03 Sun, 10 Dec 2023

Die Odendaalsrus-polisie versoek die gemeenskap se hulp om 'n vermiste vrou op te spoor.
'n Ondersoek is van stapel gestuur na die verdwyning van Nanaki Baepi (49) van Odendaalsrus.
Sy het Vrydag (8/12) haar huis in Taljaardstraat, Odendaalsrus verlaat om na die nabygeleë vulstasie te gaan om brood en snuif te koop.
Toe sy nie terugkeer nie, het haar man familielede in Bothaville, Allanridge, Thabong en Kutloanong gebel, maar kon haar nie opspoor nie. Hy het haar die volgende dag as vermis aangemeld by die Odendaalsrus-polisiestasie.
Sy is laas gesien in ’n nagrok en kamerjas en het bruin gevlegte hare, een boonste goue tand, een onderste goue tand en oorbelle. Volgens getuies is sy ook gesien by die taxistaanplek en Pick n Pay in die Odendaalsrus middestad.
Enigiemand met inligting word versoek om speurder Lt Kolonel Bennie Strydom van Odendaalsrus Speurdienste te kontak by 082 301 2797 of Crime Stop by 08600 10111. Alternatiewelik, gebruik die My SAPS App om ’n wenk in te dien.