On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Kersliggies op Sasolburg bring weer vreugde, ondanks hartseer

───   KAREN VAN DER BERG 09:59 Mon, 11 Dec 2023

Kersliggies op Sasolburg bring weer vreugde, ondanks hartseer | News Article
Die liggies van Uniestraat 30 op Sasolburg bring al jare bekoring. Foto verskaf

“Vanjaar is hulle albei weg, maar ons sal aangaan.”

Dit gaan oor die kinderharte wat bly word en die gesigte vol vreugde.

Dis waarom Koos Strydom van Uniestraat 30 op Sasolburg al jare lank elke Kersfees ’n skouspel van Kersliggies uitpak vir mense, en veral kinders, om te geniet. Maar vanjaar is die eerste keer in meer as 20 jaar wat hy dit sonder sy vrou, Zenda, moet aanpak. Sy het in Mei weens ’n bloedklont gesterf. 

Koos sê ondanks die hartseer sal hy nie ophou om die bekoring te bring nie. Benewens om kinderharte te verbly, doen hy dit ook om die boodskap, dat Jesus as Koning gestuur is, uit te dra. “Dit is vir my belangrik dat mense moet weet waaroor Kersfees gaan en daarom versprei ek die boodskap.”

Koos het ook ’n gedenktuin vir sy vrou, Zenda, en dogter, Odette, uitgelê. Foto verskaf

Die idee van die liggies het by sy dogter, Odette, begin toe sy ’n skooldogter van 14 was, vertel Koos. Die gesin het elke jaar hard gewerk en planne gemaak om die liggies steeds mooier en groter te maak.

Odette is egter skielik op 31 Oktober 2020 oorlede. Sy was 29 en het in haar slaap aan hartversaking gesterf. Dit was bitter swaar, sê Koos. Hulle was nie seker of hulle met die liggies moes aangaan nie, maar het besluit om dit as huldeblyk aan Odette voort te sit.

“Vanjaar is hulle albei weg, maar ons sal aangaan,” vertel hy, solank as wat hy kan. “Ek weet hulle kyk uit die hemel af op ons.”


• Toegang is gratis, maar besoekers kan donasies vir ’n bydrae tot die elektrisiteitsrekening en petrol vir die kragopwekker in ’n donasiehouer plaas. Geskenke of lekkergoed is welkom en word gegee aan minderbevoorregte kinders.

OFM Nuus/Karen van der Berg CG

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.