Central SA
Beskerm jou diere só hierdie feestyd─── HEIDRÈ MALGAS 14:56 Mon, 11 Dec 2023
“Daarbenewens is dit belangrik om ’n inspeksie van jou erf voor Oukersaand te hou om te verseker dat die omheining veilig op sy plek is.”
Die feestyd is gevul met vreugdevolle vieringe wanneer families en vriende bymekaarkom. Dié tyd van die jaar kan egter uitdagings inhou vir troeteldiereienaars.
Een van die grootste bekommernisse is die gebruik van vuurwerk, sê Werner Botha, senior inspekteur van die Bloemfonteinse DBV, ten spyte van die beperkings wat uiteengesit word in die Wet op Vuurwerke.
“Baie Suid-Afrikaners ignoreer steeds hierdie wetgewing wat ’n risiko vir boetes of misdaadrekords inhou. Die gebruik van vuurwerk kan vrees en angs by huisdiere veroorsaak,” sê Botha.
Om die spanning wat deur vuurwerk veroorsaak word te verlig kan sagte musiek of ’n televisieprogram help om die skielike harde geluide minder skrikwekkend te maak. Dit kan ’n kalmerende uitwerking hê.
“Daarbenewens is dit belangrik om ’n inspeksie van jou erf voor Oukersaand te hou om te verseker dat die omheining veilig op sy plek is en dat daar geen rommel is wat skade kan veroorsaak nie,” sê hy.
Die DBV beveel aan dat eienaars hul honde toerus met ’n mikroskyfie om hulle te identifiseer.
“In gevalle waar eienaars dit moeilik vind om hul honde tydens vuurwerk kalm of veilig te hou, kan hulle kalmeermiddels by ’n veearts kry.”
’n Mens behoort familielede of vriende wat nie troeteldiere het nie in kennis te stel van die teenwoordigheid van honde of katte in jou huis voor hulle opdaag. Sommige troeteldiere is dalk gemaklik met oormatige aandag of die teenwoordigheid van kinder, maar ander kan angstig raak en moontlik aggressiewe gedrag toon.
Vir eienaars wat nie hul diere saam met vakansie kan neem nie of tydelike huisvesting weens besoekers moet reël, kan ander verblyfopsies oorweeg. Botha sê die DBV landwyd kan help met veilige vakansieakkomodasie vir diere.
Wanneer troeteldiereienaars na oppassers soek moet hulle uiters versigtig wees. Die DBV hanteer gereeld klagtes waar troeteldiere sonder kos of water gelaat word weens die nalatigheid van oppassers.
Hy sê indien moontlik oorweeg dit om jou troeteldiere saam te neem of kry betroubare troeteldierakkomodasie. Plaaslike DBV’s kan inligting verskaf oor die beskikbaarheid van hokke of ander betroubare hulpbronne.
Dis ook noodsaaklik om te verseker dat jou diere se inentings op datum is. Dit is veral belangrik vir jong troeteldiere weens die hoër risiko van sekere siektes soos katgriep in die somer.
