Central SA
Rise Mzansi vermoed politieke motiewe sit agter Bloemfontein se waterkrisisse─── HEIDRÈ MALGAS 15:40 Wed, 13 Dec 2023
“Hierdie probleem nie net tot Mangaung beperk nie, maar blyk ’n terugkerende probleem te wees in vele Vrystaatse munisipaliteite.”
Die nuwe politieke party Rise Mzansi eis deursigtigheid oor die waterkrisisse in die Mangaung-metro en ander Vrystaatse munisipaliteite.
Watervoorsiening in Bloemfontein, veral in die noordelike voorstede, is al langer as twee weke wisselvallig en die watergehalte is swak. Talle inwoners kla oor ’n onaangename reuk en is bekommerd oor die gesondheidsgevaar wat die water kan inhou.
Rise Mzanzi is diep besorg oor die voortdurende wateronderbrekings in Mangaung en ander gebiede van die provinsie waaronder armes en gemarginaliseerde gemeenskappe die meeste ly, sê Nomsa Marchesi, ’n koördineerder van die party.
‘Dis duidelik die twee instellings het finansiële geskille’
“Kommer heers dat hierdie onderbrekings strategies (beplan) word rondom die feestyd en veranderinge in leierskap, wat lei tot vermoedens van politieke en administratiewe motiewe agter die watervoorsieningskwessies,” sê sy.
Rise Mzansi glo dat die wortel van die probleem lê in ’n konflik tussen die metro en die Vaal-Sentraal-waterraad (voorheen Bloemwater). Sy meen dis duidelik die twee instellings het finansiële geskille omdat die metro die waterraad ’n fortuin skuld, wat selfs tot regsstappe gelei het.
‘Toegang tot water is ’n basiese mensereg’
Mangaung is besorg oor die finansiële lewensvatbaarheid van die aankoop en verspreiding van water, maar Rise Mzansi meen albei instellings moet die welstand van die inwoners voorop stel en ’n duidelike en eerlike verslag van die probleme ter tafel lê. Toegang tot water is ’n basiese mensereg en mag nie as ’n wapen vir politieke of administratiewe gewin gebruik word nie.
“Tog het ons ook waargeneem dat hierdie probleem nie net tot Mangaung beperk is nie, maar blyk ’n terugkerende probleem te wees in vele Vrystaatse munisipaliteite, waaronder Matjhabeng in Welkom, Masilonyana op Theunissen, en Kopanong op Trompsburg,” sê sy.
‘Matjhabeng se skuld oorskry R5 miljard’
Dis kommerwekkend om te besef dat sommige van hierdie munisipaliteite, soos Kopanong, in die gesig gestaar word deur waterbeperkings van tot 30% weens aansienlike uitstaande skuld aan Vaal-Sentraal. Kopanong skuld byvoorbeeld meer as R600 miljoen, terwyl Matjhabeng se skuld R5 miljard oorskry.
“Vir te lank is hierdie munisipaliteite toegelaat om in insolvensie te vervaag, en ons glo dit is tyd vir ’n verandering. Talle verslae van die ouditeur-generaal oor hierdie munisipaliteite beklemtoon die gebrek aan doeltreffende leierskap in hierdie gebiede,” sê sy.
OFM Nuus dg
