Central SA
2 Goudvelders skitter in hul gemeenskap─── KAREN VAN DER BERG 08:00 Fri, 15 Dec 2023
“Soms voel ’n mens jy werk net agter die skerms, maar dit is nie so nie. Dit is wonderlik om te weet dat ’n kantoordame wel ’n verskil maak.”
Twee Goudvelders het hulle onderskeie skole se naam hoog gehou toe hulle vereer is vir die werk wat hulle in hulle gemeenskap doen.
Jeanette Osborne, sekretaresse by die Primêre Skool Naudeville in Welkom, en Helené Rossouw, onderwyseres aan die Welkom-Gimnasium, is onlangs bekroon by Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap.
Solidariteit sê die projek is daarop gemik om gewone mense op ’n buitengewone wyse te vereer. Tydens die Sterre in die Gemeenskap-prysuitdeling word mense uit alle uithoeke van die land gehuldig vir hul bydrae tot die gemeenskap deur hul beroep.

Jeanette Osborne. Foto verskaf
Osborne is die kantoorpraktisyn-wenner. “Sy leef haar Christelike waardes uit in haar rol as sekretaresse,” sê Solidartiteit in die commendatio. “Danksy 15 jaar se ondervinding beliggaam sy lojaliteit, respek, vriendelikheid en hulpvaardigheid.
“Sy is ’n sleutelkontakpersoon tussen die skool se ouers, personeel, leerders en besoekers, en haar betrokkenheid by uiteenlopende aspekte van die skool se werksaamhede maak haar onmisbaar.”
“Dit is vir my so ’n groot voorreg om raakgesien te word,” sê Osborne, “veral deur my hartsmense van die skool. Soms voel ’n mens jy werk net agter die skerms, maar dit is nie so nie. En dit is wonderlik om te weet ’n kantoordame kan ’n verskil maak.”

Helené Rossouw saam met haar man, Gawie, by die geleentheid. Foto verskaf
Rossouw is aangewys as hoërskoolonderwyser van die jaar. “Rossouw het ’n trotse 20-jaar-rekord van ’n 100%-slaagsyfer in gr. 12, en die afgelope 10 jaar behaal haar Verbruikerstudies-leerders jaarliks sewe A-simbole,” lui haar commendation.
Sy probeer die vak lewend hou vir haar leerlinge. “Ek probeer om dit vir hulle lekker te maak. As ’n kind iets geniet, gee hulle meer aandag.”
Verbruikerstudies is ’n vol vak waarin alle aspekte van ‘huisdinge’ geleer word, vertel sy. “Die kinders leer ook entrepreneurskap, wat vandag so belangrik is.”
Die eerbewys is “’n ongelooflike eer en voorreg, veral om te sien hoe ek in 20 jaar mense se lewe verander het.”
OFM Nuus/Karen van der Berg mc
