Central SA
Drie mishandelde kinders uit nagmerrie-huis in Klerksdorp gered─── KAREN VAN DER BERG 17:02 Fri, 15 Dec 2023
“Die huis was morsig. Dit was besaai met vullis en klere. Daar was geen kos vir die kinders in die yskas nie.”
Dit is asof die intensiteit van die misdaad wat teen kinders gepleeg word, ál meer toeneem. Die mensdom het regtig die pad byster geraak.
So sê Wayne van Onselen, stigter en besturende direkteur van die organisasie Unchain our Children, wat die afgelope weke betrokke was by die poging om drie jong kinders uit haglike omstandighede uit ’n huis in Klerksdorp te red.
‘Die ouers word aangekla van kinderverwaarlosing en verkragting’
Die kinders was so vuil en verwaarloos dat hulle aanvanklik vir poppe op die bank aangesien is, sê Van Onselen.
’n Driejarige meisie en nege maande oue babadogtertjie en hulle tweejarige boetie is in die hool aangetref. Van Onselen sê die ouers word aangekla van kinderverwaarlosing en verkragting omdat die dogtertjies na bewering verkrag is. Hulle gaan tuis in ’n veilige plek terwyl maatskaplike werkers hulle evalueer.
Die ma (21) en pa (38) het reeds in die Klerksdorpse landdroshof voorgekom en sal weer Dinsdag (19/12) verskyn.

In die yskas was amper geen kos nie, net nog vuiligheid, en spinnekoppe. Foto verskaf
Van Onselen sê ’n inwoner het die organisasie genader omdat hulle erg bekommerd oor die kinders was. Hulle het toe die polisie en maatskaplike werkers betrek en ’n huisbesoek gaan doen. “Dit wat hulle daar gesien het, was asof dit uit ’n nagmerrie kom.
“Die span op die toneel was diep geskok. Die huis was morsig. Dit was besaai met vullis en klere. Daar was geen kos vir die kinders in die yskas nie. Hulle het eers later besef die poppe wat op die bank lê, is nie poppe nie, maar vuil kinders.”
‘Die drie kindertjies sal deeglik behandel word’
“Die mense op die toneel het die verwaarloosde kinders beveilig en hulle verwyder. Hulle is toe na ’n hospitaal geneem en mediese ondersoeke op hulle is begin.”
Die drie sal deeglik behandel word en die maatskaplike werkers gaan die pad saam met hulle stap in die beste belang van die kinders.

Die morsige binnekant van die yskas. Foto verskaf
Hoewel dit erg was om die kinders so te vind, sê Van Onselen, is dit ongelukkig nie eens een van die verskriklikste gevalle wat hulle al gesien het nie. “Dié soort dinge word ál erger.”
• Unchain our Children is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat mensehandel bekamp, optree teen misdade teen kinders en ingryp by geslagsgeweld. Hulle help ook bejaardes wat mishandel word. Enigiemand wat wil help of betrokke raak kan hulle webtuiste besoek. Skakel hulle as jy iets wil rapporteer.
