Central SA
Inwoners in Keimoes se water is terug─── 09:19 Wed, 27 Dec 2023
“Ek kon nog steeds nie ons Kersete se skottelgoed was nie.”
Die Kai !Garib-munisipaliteit het vandag (27/12) bekend gemaak dat watertoevoer na Keimoes stelselmatig herstel word nadat nuwe waterpompe geïnstalleer is.
Inwoners van dié Noord-Kaapse dorp het hul mond op sosiale media uitgespoel nadat hulle vir vyf dae sonder kraanwater moes klaarkom. “Ek kon nog nie ons Kersete se skottelgoed was nie,” het een op Facebook gekla. Inwoners was veral bekommerd oor babas en bejaardes wat sonder water moes klaarkom.
Die water wat deur tenkwaens gebring is, was ook nie genoeg om aan die aanvraag te voldoen nie en inwoners moes noodwendig bottels water by winkels koop.
Verskeie inwoners by wie die watertoevoer reeds herstel is, het hulle tot sosiale media gewend om te kla omdat die water “sleg proe en soos riool ruik”. Obakeng Isaacs, munisipale bestuurder, waarsku dat inwoners nie dadelik die kraanwater moet drink nie omdat dit modderig sal wees. Die water moet eers vir ’n rukkie uitloop voordat dit bruikbaar is.
“Die Kai !Gari-munisipaliteit bedank inwoners vir hul geduld tydens die uitvoering van hierdie noodsaaklike herstelwerk,” sê hy.
OFM Nuus
