Central SA
Meer as 400 babas op Nuwejaarsdag in Suid-Afrika gebore─── 08:50 Tue, 02 Jan 2024
Die aantal Nuwejaarsbabas het deur die dag toegeneem en meer akkurate syfers sal mettertyd deur die departement bekend gemaak word.
Meer as 400 Nuwejaarsbabas is in staatshospitale in Suid-Afrika gebore nog voordat die son die eerste keer in 2024 sy verskyning gemaak het. Die Departement van Gesondheid sê in Noordwes is 33 babas gebore, die Vrystaat 17 en die Noord-Kaap 14, terwyl Gauteng 112 geboortes aangemeld het, Mpumalanga 28, die Wes-Kaap 29, KwaZulu-Natal 84, Limpopo 55 en die Oos-Kaap 52.
Die aantal Nuwejaarsbabas het deur die dag toegeneem en meer akkurate syfers sal mettertyd deur die departement bekend gemaak word.
‘Kommer oor tienerma's uitgespreek’
Joe Phaahla, minister van gesondheid, het sy kommer uitgespreek oor die aantal tienermeisies wat geboorte gee. Die jongste ma is ’n 14-jarige meisie van KwaZulu-Natal “Dit beteken sy was dalk 13 jaar oud toe sy swanger geword het.”
Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, sê dit is ontnugterend om soveel tienerma’s te sien. “Meisies in hierdie ouderdomsgroep het steeds leiding en versorging nodig, maar moet nou self na ’n lewe omsien.”
‘Eerste Vrystaatse baba om 00:03 gebore’
In die Vrystaat het die eerste Nuwejaarsbaba drie minute ná middernag sy eerste skree gegee. Keneilwe Thoabala (23) van Thaba Nchu se seun (3,26 kg) is by die Dr. JS Moroka-distrikshospitaal gebore. Elisa Chinula (28) van Parys het om 00:04 aan haar dogter (3,05 kg) by die Parys-distrikshospitaal geboorte gegee.
“'n Baba wat op Nuwejaarsdag gebore word, simboliseer die 'geboorte' van die volgende jaar en die ‘afsterwe’ van die vorige jaar,” sê Mathabo Leeto, Vrystaatse LUR vir Gesondheid. Sy het die kraamsaal by die Bongani-streekhospitaal in Welkom besoek waar die derde Vrystaatse Nuwejaarsbaba gebore is. Nthabiseng Mogola van Meloding se seun (1,88 kg) is om 00:07 gebore.
Leeto het die nuwe ma's gelukgewens met die nuwe toevoegings tot hul gesinne en sorgpakkies met babaprodukte, doeke en toiletware vir die ma’s uitgedeel.
Sy het ma’s aangemoedig om ten minste vir die eerste ses maande hul babas te borsvoed. “ Ná ses maande is borsmelk steeds 'n belangrike bron van voedingstowwe, daarom is 'n tydsbeperking nie nodig nie.”
OFM Nuus dg
