Central SA
Myningenieur van Welkom ontvoer, vermoor; verdagtes steeds op vrye voet─── HEIDRÈ MALGAS 12:42 Mon, 08 Jan 2024
“Sy het na die tweeling se slaapkamer gehardloop om hulle te versteek.”
Buitelanders sit na bewering agter Saterdag (7/12) se ontvoering van en moord op ’n ingenieur van die Beatrix-myn by Theunissen.
Mojakisane Lesoetsa (30) se liggaam is in ’n oop veld langs die St. Helena-hospitaal in Welkom gevind met veelvuldige beserings aan sy kop en skouer, sê Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder. Sy uitgebrande voertuig is op Virginia gekry.
“ ’n Dertigjarige vrou, wat die oorledene se skoonsuster en kinderoppasser was, het saam met ’n twaalfjarige tweeling in ’n huis in Mercutiostraat, Bedelia, geslaap toe sy bewegings binne die huis hoor,” sê Thakeng. “Sy het na die tweeling se slaapkamer gehardloop om hulle te versteek.

Mojakisane Lesoetsa se uitgebrande voertuig is in Welkom gevind. Foto verskaf
“Sy kon ’n struweling in haar swaer se kamer hoor, wat aanhoudend wou weet: ‘Wat wil julle van my hê?’
’n Onbekende man met ’n klapmus en ’n vuurwapen het die slaapkamer binnegekom en Sotho gepraat. Hy het voorgegee dat hy Zoeloe praat en gesê hulle moet uit die slaapkamer kom. Hulle is toe beroof van ’n wit iPhone 7 of 8 van R5 000, ’n blou of groen Redmi van R2 000 en ’n swart HTC van R2 000.
Thakane sê die kinderoppasser kon hoor hoe ’n stem dreig om die slagoffer te skiet as hy om hulp roep. “Die verdagtes het met hom in sy donkerblou Volkswagen Polo TSI met Vrystaat-nommerplate weggery.”

Mojakisane Lesoetsa se uitgebrande voertuig is in Welkom gevind. Foto verskaf
Die kinderoppasser het baie bloed van die sitkamer tot by die motorhuis gesien. “ ’n Swart Samsung-32-duim-platskerm van R4 000 wat teen die muur was, het ontbreek, en ’n swart Hisense-60-duim van R18 000 is uit die huis verwyder, maar is in die motorhuis gevind.”
Welkom se polisie is ingelig en ’n saak van huisroof en ontvoering is vir verdere ondersoek aangemeld. Lesoetsa het as ingenieur by die Beatrix-myn gewerk. Sy naasbestaandes is amptelik in kennis gestel.
Enigeen met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes, kan spr.sers. Pitso Matsie by 071 062 7692 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel. Inligting kan ook anoniem gedeel word op die MySAPS app.
OFM Nuus/Heidrè Malgas dg/cg/mc
