Central SA
2 vroue in hegtenis weens kinderverwaarlosing─── 14:23 Mon, 08 Jan 2024

“Toe hulle by hul bestemming aankom, het hulle die ma meegedeel dat hulle die kind agtergelaat het, en sy het dadelik die polisie ontbied.”
Die polisie op Dewetsdorp in die Suid-Vrystaat het ’n soektog van stapel na ’n kleuter nadat haar twee niggies (19 en 20 jaar oud) haar langs die pad gelos het.
Die twee vroue het hul huis in Kanana saam met Reitumetse Madibeng (4) verlaat en na plase in die R702-omgewing in die Vrystaat vertrek. Hulle het die meisie na bawering onder ’n boom langs die pad na Daspoort agtergelaat nadat sy moeg geloop was en onder die boom gaan lê het.
Die vroue het die kind gelos waar sy gerus het om verder na ’n plaas in die omgewing te stap. Toe hulle hul bestemming bereik, het hulle die ma meegedeel dat hulle die kind agtergelaat het. Sy het dadelik die polisie ontbied. ’n Soekspan is saamgestel, maar hulle kon nie die kind opspoor nie.
’n Saak van kinderverwaarlosing is aanhangig gemaak en die vroue is in hegtenis geneem.
Enige lid van die publiek wat dalk inligting oor die vermiste kind het, word versoek om Mauriza Cremore by 082 467 6417 te bel. Wenke kan ook gestuur word op die MySAPS app of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
Geen foto van die vermiste kind is beskikbaar nie.
OFM Nuus cg/dg/mc