Central SA
Sangoma-voorval in Welkom: ‘Voorvaders sal nooit opdrag gee om te ontvoer’─── 10:00 Wed, 10 Jan 2024
’n Woedende James Majake, voorsitter van ’n sangomavereniging, sê die verdagte is nie ’n regte sangoma nie.
Die Vrystaatse polisie is geloof vir hul vinnige optrede om ’n peuter (21 maande) met haar ouers te herenig nadat sy Saterdag (6/1) onder haar ma se neus uit ’n winkelsentrum in Thabong deur ’n vermeende sangoma ontvoer is.
Die sangomavereniging Lengau la Thabeng sê die man is “nie ’n regte sangoma” nie. “Die voorvaders sal nooit iemand opdrag gee om mense te ontvoer nie.”
’n Man van Bronville het intussen in verband met haar ontvoering in die landdroshof in Welkom verskyn. “Kgotso Victor Mahloane (45) bly in polisieaanhouding en sal weer Maandag (15/1) in die hof verskyn om aansoek te doen om op borgtog vrygelaat te word,” sê Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
‘Die sangoma is in hegtenis geneem’
Ntshepang Sotsaka (33), wat Saterdag die Boitumelo-winkelsentrum vir inkopies besoek het, is dadelik na die Thabong-polisiekantoor toe sy besef haar dogtertjie het weggeraak, berig Daily Sun.
Beeldmateriaal van die winkel het gewys hoe ’n man die kind neem, haar in ’n motor laai en wegry. Die polisie het onmiddellik met ’n soektog begin en al die tradisionele genesers in Thabong besoek totdat inligting bekom is oor waar sy haar bevind.
“Die polisie is na ’n adres in Bronville waar die kind ongedeerd gevind is. ’n Sangoma is in hegtenis geneem en van ontvoering aangekla,” sê Thakeng.
‘Ons veroordeel sy optrede’
Maar ’n woedende James Majake, voorsitter van Lengau la Thabeng, het aan Daily Sun gesê die verdagte is nie ’n regte sangoma nie. “Ons veroordeel sy optrede. Hy is dalk iemand wat voorgee hy is ’n sangoma terwyl hy ’n misdadiger is.
“Ons sal na die hof opruk om borgtog teen te staan. Die voorvaders sal nooit iemand opdrag gee om mense te ontvoer nie. Dit is sataniese gedrag wat ons nie sal duld nie.”
Tholie Afonso, distrikskommissaris van die polisie, het ouers gemaan om hul kinders dop te hou en altyd bewus te wees van hul bewegings, veral tydens inkopies wanneer ’n mens se aandag maklik afgelei kan word.
OFM Nuus dg
