Central SA
Brandvlei-moordverdagte bly in aanhouding ná eerste hofverskyning─── 09:59 Wed, 10 Jan 2024
“Die staat moet bewyse voorlê wat die verdagte met die moord kan verbind.”
Die vermeende moordenaar van ’n tiener van Brandvlei het Dinsdag in die Calvinia-hof verskyn midde-in groot belangstelling.
Ná ure se gewag kon die menigte hofgangers uiteindelik sien hoe die verdagte lyk. Tydens die hofverrigtinge is hy geïdentifiseer as Shuphren Ouers (19), wat teregstaan op die moord op Hesty-Ann Green (18) van Brandvlei.
Die tenger meisie se naakte en bebloede liggaam is Oujaarsoggend (31/12) in ’n verlate gebou hier ontdek. Ouers is Maandag in die Kaap in hegtenis geneem, sê Molefi Shemane, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Hesty-Ann Green se begrafnisdiens is Sondagoggend in 'n koshuissaal gehou. Foto verskaf
Dinsdag (9/1) het dit maar rof daaraan toe gegaan in die hof. Sy regsverteenwoordiger het in die hof daarop aangedring dat Ouers geregtig is om borgtog te kry. Die verdediging het ook aangevoer dat die kliënt van die begin af sy samewerking aan die ondersoekspan gegee het. Hy het byvoorbeeld sy adres, kontaknommers en werkplek in Kaapstad aan die polisie verstrek.
Voorts het die verdediging aangevoer die staat moet bewyse voorlê wat die verdagte met die moord kan verbind. Ná lang en soms hewige argumente het die hof beslis dat die saak tot Vrydag (12/1) uitgestel word vir ’n formele borgtogaansoek. Ouers bly in aanhouding, sê Shemane.
Volgens Green se oom Nikolas Swartz was Ouers die naweek van die moord op Brandvlei. Na bewering was Ouers selfs Oujaarsdag op die moordtoneel toe inwoners na Green gesoek het.
Ná die moord het die polisie hom op Brandvlei ondervra, maar gelos sodat hy terug na sy werk in Kaapstad kon gaan. Die DA-raadslid Cathy Klazen het die familie by die hof ondersteun. Sy hoop dat geregtigheid sal geskied.
OFM Nuus/Isaac Cloete dg
