Central SA
Midvaal beoog om 400 huishoudings binne maande van krag te voorsien─── ZENANDE MPAME 14:24 Wed, 10 Jan 2024
“Die Midvaal-munisipaliteit wil deur dié projek onwettige elektrisiteitsverbindings in die gebied beëindig.”
Die munisipaliteit het ’n tweede fase van die elektrifisering van huishoudings vir Sicelo-inwoners in Midvaal begin. Die projek wil gemeenskappe toegang gee tot wettige elektrisiteitsverbindings. Die doel is om 400 huishoudings binne ses maande van krag te voorsien.
“Die munisipaliteit het ’n projek in die informele nedersetting Sicelo aangepak wat R18 miljoen in die 2023-boekjaar gekos het. Die eerste fase is verlede jaar voltooi toe 200 huishoudings elektrisiteit ontvang het,” sê burgemeester Peter Teixeira.
‘Die projek wil gemeenskappe toegang gee tot wettige elektrisiteitsverbindings’
’n Vergadering is Dinsdag 2 Januarie deur Reginald Hubbard, burgemeesterskomiteelid vir ingenieurswese, met inwoners van Wyk 8 gehou om hulle in te lig oor die elektrifisering van Sicelo.
“Die projek wil krag aan altesaam 1 200 huishoudings verskaf en die tweede fase het ten doel om 400 huishoudings binne ses maande te elektrifiseer,” sê Hubbard. “Die munisipaliteit belê miljoene in Sicelo en ander formele en informele nedersettings om die munisipale watervoorsiening en elektriese netwerk op te gradeer.”
