Central SA
Polisie kry vierjarige se liggaam op plaas by Dewetsdorp ná kort soektog─── HEIDRÈ MALGAS 09:01 Fri, 12 Jan 2024

“Twee vroue van Kanana het saam met die vierjarige Reitumetse Madibeng na die plase in die omgewing van die R702-pad gestap.”
’n Saak van moord word ondersoek nadat die liggaam van ’n vierjarige meisie Donderdag (11/01) ná ’n soektog van ’n paar dae gevind is.
Haar niggies (19 en 20) beweer hulle het haar Vrydag (5/1) onder ’n boom agtergelaat omdat sy gesê het sy is moeg gestap. Polisiewoordvoerder Thabo Covane sê die polisie het Reitumetse Madibeng Donderdag dood aangetref in die veld naby die plaaspad tussen Kareelaagte en Deelpan.
Covane sê sy is Vrydag as vermis by Dewetsdorp se polisiekantoor aangemeld. “Luidens die verslag het twee vroue van Kanana saam met die vierjarige Reitumetse Madibeng na die plase in die omgewing van die R702-pad gestap,” het hy gesê.
Die SABC berig Lucy Matsipa, ’n ouma van die vierjarige, beweer die kind is met geweld deur die niggies van Wepener na Dewetsdorp geneem.
Die twee niggies het beweer hulle het die vierjarige meisie onder ’n boom langs die pad na Daspoort gelos. Die kind het glo moeg geraak van stap en het onder die boom gaan lê, maar die twee verdagtes het verder gestap na die plaas Hannierust.
Toe hulle hul bestemming bereik, het hulle die ma ingelig dat hulle die kind agtergelaat het. Sy het dadelik die polisie gebel.
Die twee verdagtes, wat vir kinderverwaarlosing in hegtenis geneem is, is steeds in polisieaanhouding. Hulle sal Woensdag (17/1) in Dewetsdorp se landdroshof verskyn en om borgtog aansoek doen.