Click on the warning image to view this post
Central SA
Nóg 'n klagte teen Noord-Kaapse moordbeskuldigde─── 12:53 Sat, 13 Jan 2024
“Vrydag se hofverrigtinge op Calvinia was spanningsvol vir die hordes hofgangers wat sowat nege uur lank binne en buite op ’n uitspraak gewag het.”
Nóg ‘n aanklagte is teen Shuphren Ouers (19) ingedien.
Hy staan tereg op moord en word in die gesig gestaar deur ’n aanklag van poging tot verkragting op Hesty-Ann Green van Brandvlei in die Noord-Kaap. Die Green (18) se bebloede en naakte liggaam is op 31 Desember in 'n verlate bewaarskool hier ontdek.

Hesty-Ann Green se begrafnisdiens is Sondagoggend in 'n koshuissaal gehou. Foto: verskaf.
Vrydag (12/1) se hofverrigtinge op Calvinia was spanningsvol vir die hordes hofgangers wat sowat nege uur lank binne en buite op ’n uitspraak gewag het.
Die staat het aangedui dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ook ‘n klagte van poging tot verkragting (Skedule 6 oortreding) by die moordklagte gaan voeg, volgens Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Twee getuienisse, sowel as Ouers s’n, is Vrydag aangehoor. Die beskuldigde se pa, Niklaas Ouers, het getuig dat sy seun 06:00 die oggend van die moord aan die huisdeur geklop het nadat hy hom twee dae lank nie gesien het nie.
‘Die wond was glo die gevolg van ‘n klip waarmee hy gegooi is’
Hulle het gesels en hy het ‘n wond aan sy seun se kop opgemerk wat hy voorheen nie gehad het nie. Die wond was glo die gevolg van ‘n klip waarmee iemand hom by die dans gegooi het.
Ouers het daarop aangedring dat hy in Engels getuig. Die verdediging het Ouers se geskrewe verklaring ingedoen. Hy het onder eed albei aanklagte teen hom ontken, want hy het getuies wat kan bevestig waar hy die aand van die moord was.
Hy het erken dat hy op 31 Desember by die moordtoneel was omdat hy ook daardie oggend by ’n buurman van die moord gehoor het. Nadat die polisie hom ondervra het, het hy op 5 Januarie terug Kaap toe gegaan.

DA-verteenwoordigers by die hof op Calvinia.
Hy het voorts verklaar dat hy geskok was toe die ondersoekbeampte, Ryno Sass, hom op 8 Januarie in die Kaap in hegtenis geneem het. Eers omstreeks vyfuur Vrydagnamiddag het die hof beslis dat die beskuldigde in aanhouding moet bly tot 29 Januarie vir sy borgtogaansoek.
Die staat kan intussen die patologiese verslag en ’n uitlegplan van die moordtoneel bestudeer, wat nou beskikbaar is.
Gizela Opperman, DA LP, het ná die hofverrigtinge gesê dat die crèche gesloop moet word.
