Central SA
Saak ná vierjarige se ontvoering, moord uitgestel─── HEIDRÈ MALGAS 14:55 Wed, 17 Jan 2024

“Toe hulle wakker word, het hulle ontdek dat Reitumetse vermis is.”
Die saak van die twee vermeende ontvoerders en moordenaars van ’n vierjarige van Dewetsdorp is uitgestel tot Woensdag (24/1) vir hul borgaansoek.
Nthabiseng Malefane (19) en Maditaba Matsipa (20) het Woensdag (17/1) in die Dewetsdorp-landdroshof voorgekom ná die dood van Reitumetse Madibeng (4). Verslae dui daarop dat die beskuldigdes die kind op Vrydag 25 Januarie onder ’n boom gelos het.
Nthabiseng Malefane (19). Foto: Heidré Malgas
In haar verklaring sê Matsipa, die tante van die jong slagoffer, dat haar ma haar en Malefane opdrag gegee het om die kinders na hul ma te begelei, wat Matsipa se suster is.
Sy meld dat hulle geld gegee is vir vervoer na Dewetsdorp vanaf die township Kanana by Wepener. Nadat hulle afgeklim het, het hulle die oorblywende afstand gestap. Matsipa het Reitumetse op haar rug gedra, terwyl Malefane ’n ander kind gedra het.
Luidens Matsipa se verklaring het Reitumetse, nadat sy ’n rukkie gedra is, begin loop, maar gou te uitgeput geraak om voort te gaan. Die groep het toe gestop om onder ’n boom te rus, waar hulle uiteindelik aan die slaap geraak het.
Toe hulle wakker word, het hulle ontdek dat Reitumetse vermis is. In paniek het hulle hulle na ’n nabygeleë plaas in Dewetsdorp gehaas om die voorval aan te meld.
Reitumetse se lewelose liggaam is die volgende Donderdag (11/1) gevind in ’n oop veld naby die plaaspad tussen Kareelaagte en Deelpan.
Maditaba Matsipa (20). Foto: Heidré Malgas
Die ondersoekbeampte in die saak het in sy getuienis genoem dat Reitumetse aan epilepsie gely het. Hy het ook genoem dat die uitslag van Reitumetse se nadoodse ondersoek nog nie beskikbaar is nie.