Central SA
Vrystaat se topleerders by seremonie in Bloemfontein vereer─── ZENANDE MPAME 11:35 Fri, 19 Jan 2024

“Hierdie merkwaardige prestasie vertoon nie net die individuele briljantheid van leerders nie, maar weerspieël ook die kollektiewe verbintenis tot uitnemendheid wat in die Vrystaat se onderwysstelsel ingeburger is.”
Die Vrystaat se Well Done-funksie vind Vrydag (19/1) by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein plaas.
Premier Mxolisi Dukwana, Onderwys-LUR Makalo Mohale en ander LUR’e woon dit by.
“Hierdie merkwaardige prestasie vertoon nie net die individuele briljantheid van leerders nie, maar weerspieël ook die kollektiewe verbintenis tot uitnemendheid wat in die Vrystaat se onderwysstelsel ingeburger is,” sê Dukwana in ’n verklaring.
“Ons bedank die onderwysers, skoolbeheerliggame en ouers vir hul onwrikbare ondersteuning en leiding. Jul toewyding het ’n deurslaggewende rol in die koestering van hierdie jong mense en voorbereiding vir sukses gespeel. Hierdie prestasie is ’n bewys van die samewerkende pogings van die hele onderwysomgewing in die Vrystaat.”
Hy sê hy is verheug om te verneem dat al vyf distrikte ’n slaagsyfer van bo 80% behaal het.
“Ter ere van die wyle LUR vir onderwys, Tate Makgoe, wie se nalatenskap ingeprent is op die vordering wat gemaak is in onderwys in die provinsie, erken die provinsie dat die prestasie ’n huldeblyk is aan sy visie en onvermoeide pogings om onderwys te bevorder. Sy passie vir uitnemendheid inspireer steeds die hele provinsie. Hierdie mylpaal word opgedra aan die sukses en nagedagtenis van Tate Makgoe.
“Ons loof ook die huidige LUR vir onderwys, Makalo Mohale, vir sy uitmuntende leierskap en toewyding tot die handhawing van hoë standaarde in onderwys. Onder sy leiding het die Vrystaatse onderwysstelsel nuwe hoogtes bereik, en die voortreflike matriekuitslae is ’n weerspieëling van sy toewyding aan die leerders en die provinsie,” sê Dukwana.
Kamohelo Mosikili se doelwitte wat hy aan homself gestel én behaal het. Foto: Facebook
“Terwyl die provinsie hierdie prestasie vier, sien ons uit na ’n toekoms waar die matriekklas van 2023 steeds uitblink op hul gekose paaie, wat sal bydra tot die welvaart van die Vrystaatse provinsie en die nasie in die algemeen.”
Met ’n slaagsyfer van 89,03%, het die provinsie vir die vyfde opeenvolgende jaar die topposisie in Suid-Afrika behaal. Die 100-topleerders van 2023 word tydens hierdie seremonie vereer.
Die topvyf van die provinsie, in volgorde, is:
Kamohelo Mosikili van die Selelekela Secondary School in Phuthaditjhaba, Lara Potgieter van die Meisieskool Oranje, Nabeel Seedat van St. Andrew's, Mojalefa Mohoalali van die Mampoi Senior Secondary School en S'busiso Nhlapo van die Rantsane Senior Secondary School.
Die Vrystaat se topleerder is Kamohelo Mosikili van die Selelekela Secondary School in Phuthaditjhaba. Hy het 100% in wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskap en geografie behaal.
OFM Nuus het met Mosikili gesels. Hy sê hy gaan vanjaar rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad studeer.
Kamohelo Mosikili. Foto: Heidrè Malgas
Lara Potgieter van die Meisieskool Oranje in Bloemfontein is ook op die Vrystaatse Onderwysdepartement se Well Done-geleentheid vereer. Sy het nege vakke. In agt vakke het sy meer as 90% behaal en in een vak meer as 80%.
Lara Potgieter. Foto: Heidrè Malgas
Lara Potgieter se beste vak was wiskunde en sy gaan B.Rek. LL.B. aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.
OFM Nuus/Zenande Mpame cg/dg