Central SA
Dieseltenkwa ontplof skouspelagtig naby Springbok – VIDEO─── 13:09 Fri, 19 Jan 2024
“My buurman was eerste op die toneel. Ons kon net magteloos staan en toekyk hoedat die vlamme alles verswelg.”
“Daar was net ‘n harde slag, toe ‘n ontploffing en daarna reusevlamme wat die lug deurklief het.”
So het inwoners van Springbok vertel nadat ‘n dieseltenkwa Donderdagaand op die N7 ontplof het. Die bestuurder het die ongeluk wonderbaarlik oorleef, omdat hy betyds kon uitspring.

Die ongeluk het naby ’n kruising, ongeveer 1,5 km vanaf die Kokerboom-woonwapark, op die N7 gebeur. Dis sowat 9 km buitekant Springbok. Die pad moes gesluit word. Geen voertuie kon vir ure na of uit Springbok beweeg in ’n suidelike rigting nie.
Volgens ‘n inwoner wat naby die toneel woon, was dit baie erg. Sy het uitasem vertel: “Ons het net die slag gehoor en die erge rook en hoë vlamme gesien. My buurman was eerste op die toneel. Ons kon net magteloos staan en toekyk hoedat die vlamme alles verswelg.”
Henry Burden sê dat hy die ontploffing in sy truspieël sien gebeur het, terwyl hy op dié pad gery het. Hy het haastig hulp gaan soek.
Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Enigeen met meer inligting kan Springbok se speurtak by 082 448 8465 bel.
OFM Nuus/Isaac Cloete cg/dg
