On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe wetsontwerp wil skoon drinkwater afdwing

───   10:38 Sat, 20 Jan 2024

Nuwe wetsontwerp wil skoon drinkwater afdwing | News Article
Kinders speel in ’n stormwaterkanaal in Boshof in die Vrystaat. Foto: Facebook/DA

“Die departement se vermoë om talle mislukte munisipaliteite tot verantwoording te roep, is twyfelagtig.”

Met nuwe wetgewing word beoog om talle mislukte munisipaliteite in Suid-Afrika tot verantwoording te roep as hulle nie skoon drinkwater kan voorsien nie. Kenners meen egter strafmaatreëls is nodig om munisipaliteite verantwoordelik te hou, en dít moet tydens die konsultasieproses in Februarie voorgestel word.

Byna twee derdes van watervoorsienende munisipaliteite (94 van 144) het in 2022 versuim om skoon drinkwater aan inwoners te verskaf, sê Steve Kretzmann van GroundUp. In 61 munisipaliteite was waterbehandeling en -voorsiening in 'n “kritieke toestand”, volgens die jongste Bloudruppelverslag. Tog kan die Departement van Water en Sanitasie nie direk ingryp om hieraan aandag te gee nie.

Kragtens huidige waterwetgewing is die departement se enigste uitweg dat die minister, in oorleg met die minister vir Provinsiale Sake en Staatkundige Ontwikkeling, die betrokke provinsie versoek om in te gryp ingevolge artikel 139 van die Grondwet.

’n Artikel 139-proses laat die provinsiale regering toe om ’n munisipaliteit onder administrasie te plaas indien hy versuim om sy grondwetlike verpligtinge na te kom. Hierdie proses is tydrowend en verg baie politieke wil.

Sy is taamlik skepties oor die doeltreffendheid van die artikel 139-proses, gegewe die dringendheid wat dikwels met waterdienste geassosieer word, sê prof. Germarie Viljoen, senior regsdosent wat spesialiseer in waterregte aan die Noordwes-Universiteit.

Nuwe wetsontwerp

Die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste, wat in November by die Parlement ingedien is, poog om die departement toe te laat om voorskrifte uit te reik aan munisipaliteite wat versuim om skoon drinkwater te verskaf.

Indien 'n munisipaliteit nie binne die vereiste tydperk aan 'n opdrag voldoen nie, sal die Wetsontwerp die Minister van Waterwese toelaat om enige waterdienste-instelling aan te stel om al die pligte wat met watervoorsiening verband hou, oor te neem. Dit sluit bedrywighede, instandhouding, opknapping en uitbreiding in, sowel as fakturering en inkomste, verkryging en menslike hulpbronne. Enige uitgawes aangegaan kan van die munisipaliteit verhaal word.

’n Seun op pad huis toe met ’n drom vol water uit ’n privaat boorgat in Mazista, in die Kgetlengrivier Munisipaliteit in Noordwes. Foto: GroundUp

’n Kandidaatprokureur van die Sentrum vir Omgewingsregte, Adelaide Chagopa, meen die departement se vermoë om talle mislukte munisipaliteite tot verantwoording te roep, is twyfelagtig. Hierdie kwessie kan egter tydens die kommentaarproses van die Wetsontwerp aangespreek word. Sy glo strafmaatreëls is nodig om munisipaliteite verantwoordelik te hou vir die vorosiening van skoon drinkwater.

Openbare konsultasies vir die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste, sowel as die Nasionale Waterwysigingswetsontwerp wat tans voor die Parlement dien, sal in Februarie plaasvind.

Sodra die nodige opdaterings gedoen is, sal dit weer aan die kabinet voorgelê moet word vir goedkeuring om deur die parlementêre prosesse voort te gaan. Die proses kan moontlik vertraag word omdat dit ’n verkiesingsjaar is.

OFM Nuus cg/mc

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.