On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstroom se ‘Ben Grylls’ ontmoet seekat in Heroldsbaai

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 10:06 Tue, 23 Jan 2024

Potchefstroom se ‘Ben Grylls’ ontmoet seekat in Heroldsbaai  | News Article
“Ben Grylls” met die seekat in die Heroldsbaai-getypoel. Foto: Adelia Jansen van Rensburg

“Ek was stomgeslaan met verwondering. Geen jagter of prooi, geen aggressie, net vertroue en ’n jong seun se vreugde. Ben kon nie ophou glimlag nie.”

’n Seun van Potchefstroom en ’n seekat het die afgelope vakansie ’n seldsame ontmoeting in ’n getypoel by Heroldsbaai in die Wes-Kaap gehad waar hulle mekaar ten volle moes vertrou.

In plaas daarvan om te swem, het Ben Jansen van Rensburg, wat pas 13 geword het, weens sy gebreekte arm in die getypoel se vlakker water geloop en die seewier op die rotse aan sy voete bestudeer.


Skielik het hy besef ’n seekat klim teen sy been op. Heeltemal onbevrees en verstom het Ben gebuk en die seekat met sy gesonde arm en hand versigtig tot op sy bors getrek.

’n Inwoner en lid van een van die ou pionierfamilies van George, Mel Walton, het volgens die George Herald dié rare oomblik aanskou. “Ek was verstom oor die ongewone en innemende optrede wat voor my ontvou het. Nie die seun óf seedier was bang nie. Dit het gelyk asof elkeen die ander een groet. Ben het die seekat liggies gestreel en die seekat het ’n tentakel uitgesteek wat Ben se ken ondersoekend omvou het.”

“Ek was stomgeslaan met verwondering. Geen jagter of prooi, geen aggressie, net vertroue en ’n jong seun se vreugde. Ben kon nie ophou glimlag nie,” sê sy.


Sy ma, dr. Adelia Jansen van Rensburg, ’n senior lektor aan die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit, het saam met Walton op die getypoel se rand gestaan en was besig om foto’s te neem. Sy het vir Walton gesê Ben is van kleintyd af mal oor alle diere.

Sy het vir Walton vertel dat hulle, en veral Ben, deur ’n moeilike tyd gaan nadat haar man en sy pa, Erhardt Janse van Rensburg, in Julie 2023 verongeluk het. Ben is die tweede oudste van vier kinders.

Ben het stadig dieper in die water ingestap en vir oulaas die seekat liefdevol gevryf voordat hy die pragtig gevlekte seedier terug in die water gehelp het. Die seekat het ’n klein bietjie ink vrygelaat en in die water verdwyn.


Adelia het aan OFM Nuus gesê Ben is van kleins af verkriklik lief vir diere en is baie geïnteresseerd om meer oor hulle te leer.

As iemand in die familie iets wil weet, vra hulle hom altyd en hy gee die interessantste antwoorde.

Adelia vertel verlede week se ontmoeting met die seekat in Heroldsbaai was vir Ben – na wie hulle verwys as “Ben Grylls” – baie spesiaal. Slegs ’n week later het hulle in die Knysna-strandmeer gaan snorkel en daar hanteer Ben toe wéér ’n seekat.

Nadat Walton van die foto's op haar Heroldsbaai-kletsgroep gedeel het, is sy oorweldig deur die reaksie. Die meeste mense van die omgewing was in ekstase en wil graag hê dat visvang en aas-versameling heeltemal verbied moet word in hierdie unieke getypoel in Heroldsbaai, wat as ’n akwarium beskou word.

Ná die rare oomblik wat sy in die baai aanskou het en met die wete van die moeilike jaar waardeur die Jansen van Rensburgs is, vra sy haarself nou af: Was dit net toevallig dat die seekat vir Ben soveel vreugde kom gee het of het sy dalk ’n onverklaarbare hemelse gebeurtenis aanskou?


OFM Nuus/Corné Greyvenstein









@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.