Central SA
Bloemfonteinse dermatoloog gee raad oor velkanker─── ELSABÉ DE JAGER 14:57 Tue, 23 Jan 2024
Die mees algemene velkankers word geklassifiseer as melanoom en niemelanoom.
Velkanker hoef nie meer ’n doodsvonnis te wees nie, sê ’n Bloemfonteinse dermatoloog nadat ’n kwaadaardige melanoom by Sarah Ferguson, die hertogin van York, gediagnoseer is.
Die behandeling en prognose van velkanker berus op die soort kanker wat gediagnoseer is, sê dr. Marietjie van Aswegen. Die mees algemene velkankers word geklassifiseer as melanoom en niemelanoom. Die bekendste niemelanoom is basaalselkarsinoom en plaveiselselkarsinoom. “Basaalselkarsinoom is die een met die laagste kans om te versprei en ook die stadig groeiendste,” sê sy.
In die geval van ’n vroeë diagnose van basaalselkarsinoom kan die toestand in die spreekkamer behandel word, en is chirurgie, bestraling of chemoterapie in die meeste gevalle onnodig. Plaveiselselkarsinoom het egter die potensiaal om verder te versprei, waarsku Van Aswegen. Dit kom gewoonlik voor in ver gevorderde kankers wat verwaarloos is, verkeerdelik gediagnoseer is en ontoereikend behandel is. Wanneer dié toestand vroeg genoeg gediagnoseer word, word dit chirurgies verwyder.
Plaveiselselkarsinoom is ’n bekende niemelanoom. Foto verskaf
Melanoom, daarenteen, is ’n aggressiewe kanker wat oor die potensiaal beskik om lewensbedreigend te wees. In die geval van ’n vroeë diagnose, kan dit chirurgies behandel word. “Dit is ongelukkig ’n soort kanker wat vinniger kan versprei en moeiliker is om te behandel omrede dit nie so suksesvol respondeer teenoor konvensionele chemoterapie nie,” sê Van Aswegen.
Om kinders teen te veel sonblootstelling te beskerm is ’n groot probleem. Sy beveel géén sonblootstelling aan vir babas jonger as ses maande nie. Vir ander is dit raadsaam om sonblootstelling tussen 10:00 en 16:00 te vermy. Indien blootstelling onvermydelik is, soek deurentyd koelte en dra ’n breërandhoed en UV- beskermde klere. Dit is ook noodsaaklik om elke 90 tot 120 minute sonskerm aan te wend.
Slegs ’n enkele oordadige blootstelling aan son as kind kan later lei tot melanoom. Foto; Freepik
Gevra oor die voorkoms van moesies, sê Van Aswegen dat plat moesies gewoonlik die gevaarlikste is. Hoewel hulle dikwels bloot as sonvlekke of sproete beskou word, kan hulle gevaar inhou. Moontlike tekens van kwaadaardigheid kan gevind word in ’n asimmetriese voorkoms, onreëlmatige rande, meerkleurigheid, grootte van meer as 6 mm, verandering in kleur en skielike bloeding.
’n Tipese voorbeeld van kwaadaardige melanoom. Foto verskaf
Van Aswegen kan die gevaar van oormatige sonblootstelling skaars beklemtoon. Omdat velkanker in baie gevalle suksesvol behandel kan word, glo te veel mense steeds dat velkanker die “minder gevaarlike” soort kanker is. Sonbestraling veroorsaak onomkeerbare of ongeneesbare DNS-skade. ’n Enkele sonblootstellingsepisode tydens kinderjare waartydens blase gebrand is, verdubbel die die kans vir velkanker in latere lewe. Voorkoming bly dus te alle tye beter as genesing.
OFM Nuus/Elsabé de Jager dg