On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Water terug op Theunissen, maar dalk nie geskik om te drink

───   KAREN VAN DER BERG 09:19 Wed, 24 Jan 2024

Water terug op Theunissen, maar dalk nie geskik om te drink | News Article
Foto verskaf

“Ons weet nie of die water geskik is vir menslike gebruik nie. Daar is geen inligting nie.”

Ná  41 dae aaneen sonder water loop dié lewensbelangrike vloeistof weer in Theunissen se krane. Soort van, want dis onseker of die water veilig is. Inwoners word aangeraai om liewer nie kraanwater te drink nie.

OFM Nuus het al meermale berig oor die watersuiweringsaanleg hier wat op 13 Desember geplunder en leeggedra is nadat die veiligheidsmaatskappy wat die aanleg opgepas het, glo nie betaal is nie en die perseel verlaat het. Sedertdien was krane kurkdroog en is inwoners desperaat vir antwoorde en inligting.

Manus Putter, ’n inwoner en sake-eienaar, het verlede week ’n vreedsame optog gereël sodat inwoners hulle misnoeë te kenne kon gee en ’n versoekskrif te oorhandig waarin hulle ’n nuwe munisipale bestuur vra.

Hy sê die water het vanaf laat Maandag drupsgewys begin terugkeer. “Dit is maar min en daar is steeds dele wat nie gekry het nie.”  Die Masilonyana-munisipaliteit het op versoek laat weet die opgaardam is halfpad gevul. Maar kommunikasie van die munisipaliteit bly swak. “Ons weet nie of die water geskik is vir menslike gebruik nie. Daar is geen inligting nie.”

Hy sê daar kan aanvaar word ná 40 dae sal die eerste water nie drinkbaar wees nie. “Maar die stelsel behoort darem skoon te spoel indien die water reg gesuiwer word.”

Inwoners bly bekommerd. “Niemand het aanspreeklikheid vir die krisis aanvaar nie. Ons dring steeds aan op verandering in die bestuur soos in die versoekskrif gevra. Hier is nog so baie werk wat gedoen moet word.”

Die watersuiweringsaanleg is op 13 Desember geplunder en leeggedra. Foto verskaf

Op dag 41 is daar ’n bietjie water, sê Marieta Visser, DA-raadslid. “Ons weet nie of dit geskik is om te drink nie. Ons waarsku mense om dit liewer nie te drink nie. Ons word ook nog nie as raadslede toegelaat om die watersuiweringsaanleg te besoek nie; dit weerhou ons van ons werk en dit is baie kommerwekkend.”

Dimakatso Modise, burgemeester, sê die watervoorsiening is herstel. Sy het nie op enige ander navrae gereageer nie.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.