On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Agtjarige van Vanderbijlpark herstel goed ná opehartoperasie

───   HEIDRÈ MALGAS 16:00 Wed, 24 Jan 2024

Agtjarige van Vanderbijlpark herstel goed ná opehartoperasie | News Article
CJ van der Merwe. Foto verskaf

“As hy seer kry of sy neus begin bloei, dan skrik jy jouself boeglam omdat hy die bloedverdunner gebruik.”

’n Jong seun van Vanderbijlpark sterk mooi aan nadat hy in Desember ’n opehartoperasie ondergaan het. Met sy geboorte was CJ van der Merwe (8) se hartklep misvorm, wat tot stremming in sy hart gelei het.

CJ se ma, Lee-Ane van der Merwe, verduidelik dat sy aortaklep heeltemal misvorm was. In sy eerste operasie is daar aan weerskante ’n klein insnyding gemaak, hoofsaaklik omdat hy nog te jonk was vir ’n ideale klepvervanging, wat gewoonlik in volwassenheid gedoen word.

“Sy groei het van dag een af alles beïnvloed – as sy hartjie en liggaam mooi in harmonie gegroei het, sou hy eers as volwassene die klepvervanging ontvang het. Maar toe het hy sy klep ontgroei en dus moes hulle vroegtydig sy klep vervang,” sê Van der Merwe.

CJ van der Merwe sterk mooi aan.

Sy beklemtoon dat CJ goed herstel het ná die operasie. Gewoonlik, ná so ’n ingrypende prosedure, sal ’n persoon ’n dag of twee aan ’n ventilator gekoppel wees. Maar met sy opname in die intensiewesorgeenheid ná die operasie, was CJ reeds van die ventilator af en het slegs minimale suurstofondersteuning nodig gehad.

“Hy het al sy dreinpype en monitore gehad, maar was nie aan ’n ventilator nie. Ons is aangemoedig om hom soveel moontlik in die hospitaal te laat beweeg om bloedklonte te voorkom,”sê sy.

“As jy hom sien sal jy nooit sê hy was vir ’n hartoperasie nie. Hy’s soos enige agtjarige besig, besig, besig. Soms is dit moeilik hy wil speel en swem en gholf speel en tekere gaan, maar ’n mens moet hom kort-kort herinner: “Boetie sit eers bietjie vir vyf minute.”

CJ is ’n blymoedige seun.

“As hy te besig is, dan werk sy hartjie te hard – ’n mens sien sommer vining hy sal papnat gesweet wees, dan weet jy nou hokaai en sit eers.”  

Sy vertel weens die klep wat vervang is met ’n metaalklep moet hy vir die res van sy lewe warfarin, ’n bloedverdunner, gebruik. Hy dra reeds ’n mediese bandjie wat aandui dat dit die geval is. “As hy seer kry of sy neus begin bloei, dan skrik jy jouself boeglam omdat hy die bloedverdunner gebruik.

“Wat belangrik is, is wanneer hy siek word, moet ’n mens altyd oorreageer. Vir my en jou is ’n verkoue ’n verkoue; as CJ verkoue kry, moet dit onmiddellik behandel word, want as die kiem op die klep gaan sit, kan dit baie probleme veroorsaak. Die klep behoort te hou vir so 20 jaar as daar geen komplikasies is nie.”

CJ moet elke tweede maand hartspesialis toe gaan vir ’n ondersoek in Sunninghill. Foto verskaf

CJ het ná geboorte die RSV-virus opgedoen, ’n gevaarlike virus vir ’n “nuwe” baba, maar as die baba ’n onderliggende probleem het waarvan mens nie bewus is nie, is RSV lewensgevaarlik.


“Wanneer jy in so ’n situasie is, kan jy maklik emosioneel raak. My beste raad sou wees om positief te bly. As ouer kan jy nie voor jou kind mope en huil nie, selfs as dit ’n baba is nie, hulle voel dit aan. Jy moet sterk bly. Ons het ook baie trane gestort en nagte sonder slaap deurgebring, maar nooit voor CJ nie. Ek dink dit het hom ook so positief gehou.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas dg/mc

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.