On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Hopetown-polisie kyk glo toe hoe skare vragmotor plunder – VIDEO, FOTO’S

───   ZENANDE MPAME 15:31 Thu, 25 Jan 2024

Hopetown-polisie kyk glo toe hoe skare vragmotor plunder – VIDEO, FOTO’S | News Article
Gemeenskapslede plunder die vragmotor. Foto verskaf

“ ’n Vragmotor wat vrugtesap van die Kaap na Gauteng vervoer het, is ná ’n ligte ongeluk van sy vrag gestroop.”

’n Plaaslike raadslid beskuldig die Hopetown-polisie daarvan dat hulle staan en toekyk het terwyl sowat duisend inwoners ’n sapvragmotor geplunder het ná ’n klein ongeluk op die N12.

Twee vragmotors het laat Woensdagmiddag (24/1) op die nasionale pad buite die Noord-Kaapse dorp gebots. Die een is skrams van agter getref en die agterste twee palette was effens beskadig. Die ander 22 was geheel en al ongeskonde en nog met plastiek toegedraai.

Paul van Niekerk, VF Plus-raadslid, sê die polisie was reeds op die toneel toe hy daar kom, maar het geen maatreëls getref om die vragmotor of die vrag te beskerm nie. Van Niekerk, self ’n vervoerkontrakteur, sê die toneel was onvoldoende beveilig. “In so ’n geval behoort meer beamptes aanwesig te wees en die toneel behoort afgesper te wees.”

‘Slegs agt Hopetown-polisiebeamptes was beskikbaar’

Sowat twintig minute later, toe Van Niekerk na die toneel terugkeer, was daar meer as 20 voertuie met mense op die vragmotor wat palette oopgemaak het, produkte verwyder het en dit aan omstanders aangegee het.

Slegs agt Hopetown-polisiebeamptes was beskikbaar om na die ongelukstoneel gestuur te word. Met hul aankoms het meer as 1 000 gemeenskapslede begin om die vragmotor te buit.


“Die botsing het die seil van een van die vragmotors laat oopskeur. Dit het die gemeenskap toegang tot die goedere binne gegee,” het Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê. “Die polisie het dadelik skarebeheer gedoen en die verkeer op die besige N12-pad gelei en die mense uiteengejaag.”

‘Die vragmotorbestuurders het ongedeerd uit die ongeluk ontsnap’

Van Niekerk is aangesê om te vertrek omdat hy na bewering besig was om die verkeer te versper. ’n Polisieman het aan die raadslid gesê hy het sy bes probeer, maar Van Niekerk het beweer hy het geen pogings gesien om die voertuig te beskerm of versterkings te stuur nie.

“Hier is ’n geval van wetteloosheid, aangesien die vrag in sy geheel gered kon word. Dit lyk egter of die polisie by voorbaat aanvaar het dat die onbeskadigde vrag geplunder sou word en bloot opgedaag het omdat dit hul plig is,” het Van Niekerk gesê. “Voorvalle soos dié maak dit onveilig om Suid-Afrikaanse paaie te gebruik.”

“Die vragmotorbestuurders het ongedeerd uit die ongeluk ontsnap en die ondersoek na die ongeluk duur voort,” het Kock gesê.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.