On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Skok, afgryse oor nes van kindermolestering in Noord-Kaap

───   15:49 Mon, 29 Jan 2024

Skok, afgryse oor nes van kindermolestering in Noord-Kaap | News Article

“Sy laat al langer as vyf jaar die kinders ná skool na haar huis toe kom onder die voorwendsel dat hulle godsdiens of Bybelstudie sou gedoen het.”

’n Rustige gemeenskap van skaars 600 siele het nouliks herstel van die skok van ’n dubbele moord, toe afgryslike seksdade met kinders op die lappe kom. Die Noord-Kaapse gemeenskap Vioolsdrift is nou met meer skok en afgryse as woede gevul.

Volgens inligting is ’n vrou (43), oorspronklik van Okiep naby Springbok, betrokke by die dade met seuns en dogters van tussen ses en 15 jaar. Dit gebeur glo van 2017 af, maar het eers onlangs aan die lig gekom.

Sy is vroeg in Desember in hegtenis geneem nadat die kinders die voorvalle by die skool aangemeld het. Sy was reeds meermale in die hof oor die bewerings van seksuele molestering. Verlede week het sy in Springbok-landdroshof verskyn.

‘Sy het self aan die seksspeletjies deelgeneem en so die kindertjies gemolesteer’

Haar borgtogaansoek is weer afgekeur, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder. Agttien aanklagte van ’n seksuele aard is reeds teen haar aanhangig gemaak. Sy bly in aanhouding tot 4 Maart vir verdere ondersoek.

Iemand na aan die gebeure vertel anoniem nadere besonderhede van die voorvalle en hofsaak gaan die Noord-Kaap skok.

“Sy laat al langer as vyf jaar die kinders ná skool na haar huis toe kom onder die voorwendsel dat hulle godsdiens of Bybelstudie sou gedoen het. Hier moes die slagoffers aan rolspel en seksspeletjies met mekaar deelneem.”

‘Ons kindertjies is op ’n vroeë ouderdom aan liederlike dinge blootgestel’

Volgens betroubare inligting was meer as 30 skoolkinders na bewering betrokke. Sy het hulle glo met lekkergoed na haar huis gelok terwyl haar man by die werk was. Sy het self aan die seksspeletjies deelgeneem en so die kindertjies gemolesteer, word vertroulik beweer.

Inwoners op die behoudende Vioolsdrift vertel dat hulle die kerkvrou met hulle kinders vertrou het. Sy is glo ’n Sondagskoolonderwyseres.

Een ouer was feitlik stomgeslaan terwyl sy gepraat het. “Hierdie is ’n baie sensitiewe saak vir ons as gemeenskap. Sulke goed gebeur mos net in groot plekke. Ons kindertjies is op ’n vroeë ouderdom aan liederlike dinge blootgestel wat nie vir hulle bedoel was nie.”

• In die opspraakwekkende dubbele moordsaak in Oktober het ’n inwoner, Jacobus “Japie” Claassens (59), hom aan die polisie oorgegee vir die opspraakwekkende moord op twee mans in sy huis.

OFM Nuus/Isaac Cloete cg/mc

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.