On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Waterprobleme in Mangaung-metro duur voort

───   ZENANDE MPAME 12:34 Thu, 01 Feb 2024

Waterprobleme in Mangaung-metro duur voort | News Article
Mangaung-inwoners sukkel met water. Foto: OFM News

“Verskeie gebiede in die suide van Bloemfontein loop deur onder lae waterdruk.”

Duisende inwoners van Bloemfontein sit met die hand in die hare oor vuil kraanwater, as hulle gelukkig genoeg is om enigsins watertoevoer te hê. Herstelwerk aan die Maselspoort-watersuiweringsaanleg en hoë troebelheid by die Welbedachtdam kry die skuld vir die dae lange probleem.

Noodskoonmakery van die Pentagon Park-reservoir het Donderdagoggend (1/2) begin en sou na verwagting aanhou tot 13:00. Die watergehalte in Hillsboro, Heuwelsig, Pentagon Park en omliggende buurte sou verbeter danksy hierdie noodoptrede.

“Ek het gisteroggend ’n oorweldigende hoeveelheid SMS’e ontvang van inwoners wat kla oor die gehalte van die water, wat bruin is, en die waterdruk van kraanwater,” sê Pieter Lotriet, DA-wyksraadslid.

Water wat by inwoners se krane uitgekom het. Foto verskaf

“Mangaung se munisipale bestuurder, Sello More, het gereageer op ’n WhatsApp van my oor die klagtes van inwoners en gesê die bruin water is weens krake in die waterpyp op die hooftoevoerlyn.”

Die DA doen ’n beroep op die burgemeester en die stadsbestuurder om Bloemfonteiners spoedig op die hoogte te bring van die voortslepende watertekorte. “Die gereelde watertekorte en gebrek aan kommunikasie in Mangaung ontneem inwoners van die diens waarop hulle geregtig is,” sê Hardie Viviers, DA-raadslid.

Ernstige krake in ’n klep van die hoofpypleiding wat water na die stad versprei, het die sluiting van die Maselspoort-watersuiweringsaanleg genoop. Die noordelike voorstede kan dus glad nie watertoevoer kry nie. “Herstelwerk aan die beskadigde klep is oornag voltooi, maar sekere gebiede sal steeds watertoevoeronderbrekings ervaar,” sê Qondile Khedama, Mangaungwoordvoerder.

Inhoud van die brief wat deur die munisipaliteit se woordvoerder uitgestuur is. Foto verskaf

Die gebiede wat onderbrekings sal ervaar, is Northridge, Bayswater, Lilyvale, Noordhoek, Universitas, Heuwelsig, Pentagon Park, die middestad en omliggende gebiede. Die Maselspoort-watersuiweringsaanleg sal na verwagting sy aktiwiteite teen Donderdag (1/2) om 22:00 hervat.

“Mangaung-metro vra verskoning vir die ongerief wat dit veroorsaak het en ons sal inwoners gereeld op die hoogte hou van enige nuwe verwikkelings,” beloof Khedama.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.