Central SA
Polisievrou van Sutherland vas ná sy glo tiener met mes steek─── ZENANDE MPAME 16:04 Thu, 01 Feb 2024
“Die konstabel is in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord en aanranding.”
’n Konstabel van Sutherland kom Woensdag 14 Februarie voor in die Calvinia-landdroshof vir poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer ná ’n onderonsie met ’n tiener en sy ma oor ’n selfoon.
Vuyiseka Matse (29) is deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) in hegtenis geneem nadat sy die 16-jarige glo daarvan beskuldig het dat hy haar seun se selfoon Saterdag (27/1) gesteel het.
“Matse, wat van diens af was, het na bewering na die seun se huis gegaan om hom te soek en hom daarvan te beskuldig dat hy haar seun se selfoon gesteel het. Hy was nie tuis nie, maar sy ma was daar. Hy het opgedaag terwyl Matse daar was,” sê Phaladi Shuping, Opod-woordvoerder.
‘Matse het die tienerseun in sy linkerboarm gesteek’
“Die 29-jarige konstabel het hom oor die foon ondervra, maar hy het gesê hy weet nie daarvan nie. Sy het na bewering op hom begin skree, en uit paniek het hy gesê die foon is onder ’n kussing.”
Die tiener en sy stiefpa het die foon gaan soek, maar kon dit nie kry nie. Matse het in die kombuis ingegaan en teruggekeer met ’n mes, wat sy na bewering gebruik het om die tiener in sy linkerboarm te steek. Sy word ook daarvan beskuldig dat sy hom herhaaldelik met ’n ysterpyp geslaan het.
Toe sy ma (44) probeer ingryp, is sy na bewering ook deur Matse gesteek. “’n Ambulans is na die toneel ontbied, maar weens die erns van haar beserings is sy deur die polisie na die naaste kliniek vervoer. Sy is later na die Calvinia-hospitaal oorgeplaas,” sê Shuping.
Matse is met ’n waarskuwing ontslaan.
