Central SA
DBV bekommerd oor onwettige jagtogte in Vrystaat─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:15 Fri, 02 Feb 2024
“Ek vind dit baie kommerwekkend dat hierdie diere konstant gejag word. Met die bevolkingsgetalle van hierdie wesens wat onstabiel is, is dit kommerwekkend om ’n derde voorval binne die bestek van ’n maand te sien."
Die toename in onwettige jagtogte in die Vrystaat veroorsaak groot kommer.
Die mees onlangse inhegtenisneming was dié van twee verdagtes wat gevang is met karkasse terwyl hulle in die rigting van Ventersburg op die N1 op pad was. Hulle is in hegtenis geneem deur lede van die departement van ekonomiese, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea of Natuurbewaring).
Die Bloemfonteinse DBV-inspekteur, Werner Botha, het sy kommer uitgespreek oor die onlangse styging in voorvalle van onwettige jagtogte van erdvarke in die provinsie. Die erdvark is ’n ikoniese Suid-Afrikaanse dier en is geregistreer as ’n bedreigde spesie.
“Ek vind dit baie kommerwekkend dat hierdie diere konstant gejag word. Met die bevolkingsgetalle van hierdie wesens wat onstabiel is, is dit kommerwekkend om ’n derde voorval binne die bestek van ’n maand te sien. Ons as Suid-Afrikaners het ’n verantwoordelikheid om ons inheemse skoonheid vir toekomstige geslagte te bewaar,” het hy bygevoeg.
Intussen staan die twee verdagtes tereg op aanklagte van onderskeidelik dieremishandeling en oortreding van die Vrystaatse natuurbewaringsordonnansie en Nemba-wette.
Die beskuldigdes het 30 Januarie in die Ventersburg-landdroshof verskyn. Die saak is tot 19 Februarie uitgestel. Hulle bly in polisie-aanhouding tot hul volgende hofverskyning.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg
