On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Leë beloftes terwyl rioolvuil Vrystaatse huise oorstroom

───   11:51 Tue, 06 Feb 2024

Leë beloftes terwyl rioolvuil Vrystaatse huise oorstroom | News Article
Rioolvuil stroom deur die grondstrate van Springfontein. Foto verskaf

“Die kindertjies baljaar in die rioolwater, en dis net modder waar jy kyk.”

“Mevrou, jy moet ons help. Ons baklei nou al agt jaar dat die rioolpompstasie herstel word.

“Jy moet kom kyk hoe lyk dit by ons huise! Dit is rou rioolvuil wat in ons erwe opdam. Ons pleit by die mense van die munisipaliteit om die rioolstorting te kom skoonmaak, maar hulle daag nooit op nie. Die regering het vir ons huise verniet gegee, maar hulle het nooit rioolpypleidings ingesit nie.”

“Die toilette wat in ons huis is, kan nie gebruik word nie; daar is nie water om die toilette te spoel nie, en as dit wel spoel, dan spoel die rou rioolvuil in ons erwe in. Die reuk is ondraaglik en ons word gereeld deur diarree geteister.”

Mevrou besluit om ondersoek in te stel na die klagtes op die Suid-Vrystaatse dorp, wat net sowel enige dorp in Sentraal-Suid-Afrika kan wees, en is nuuskierig om te sien of die omstandighede só erg is. Sy volg ’n kronkelpaadjie wat vol gate is. Plasse water bedek die paadjie.

Die kronkelpaadjie by Springfontein is oorstroom en vol gate. Foto verskaf

Sy maak maar liewer haar venster toe, want die reuk van rou rioolvuil vul haar neusholtes. Sy moet mooi konsentreer om die naarheid te keer wat in haar opborrel. Haar motor kom tot stilstand by die rioolpompstasie. Sy moet haarself eers oortuig om hierdie onwelriekende gemors te nader.

Dit wat sy sien, is onmenslik. Die grond is deur rou rioolwater deurdrenk. Komaan, jy sál nie naar word nie, dink sy. Volgende stap: Foto’s moet geneem word om vir die Departement van Gesondheid te stuur met die pessimistiese gedagte dat dit seker weer op dowe ore sal val – siende blind.

‘Dit is ’n rampgebied’

Kinders se skaterlag trek haar aandag. Sy stap nader om te kyk waarom die kinders dan nou so lekker lag. Hier is mos niks om oor te lag nie! Sy staan geskok terwyl haar mond oophang. Sy pink ’n traan… Die kindertjies baljaar in die rioolwater, en dis net modder waar jy kyk.

Haar oë daal op die rioolgat neer – daar is dan geen deksel op nie! Besef hulle die gevaar wat hiermee gepaardgaan? In haar verwarde toestand probeer sy die ouers en kinders waarsku van die gevaar. ’n Kind kan enige oomblik in daardie rioolgat val, met noodlottige gevolge. Om nie te praat van die ernstige siektes wat hulle kan opdoen nie. Dit is ’n rampgebied.

Kinders van Springfontein speel in die rioolvuil en kan ernstige siektes opdoen. Foto verskaf

Sy kyk om haar om te sien of enigiemand anders ook die gevaar sien, maar almal gaan net aan met hulle daaglikse take, ongeërg. Daar is mos niks fout hiermee nie.

’n Entjie verder staan ’n paar beeste en wei. Dit is winter en die veld is vaal, maar daar waar die “’rioolbemesting” sy werk gedoen het, is dit lowergroen. Die beeste staan kniediep in die gemors, maar is al te dankbaar vir die sappigheid van die groen gras. Daar is mos niks fout hiermee nie?

‘Sy dink aan haar outomatiese wasmasjien’

Nee, dit is nie normaal nie! Woede stoot in haar op, maar terselfdertyd oorval ’n gevoel van hartseer en frustrasie elke dendriet in haar brein. Haar motor roep haar – oorverdowend. Sy luister, want sy wens sy kan hierdie prentjie opskeur en vergeet dat sy dit ooit gesien het.

Voordat sy die deur van verlossing kan toeklap, staan ’n vrou met wasgoed in haar arms en staar na haar. Haar hart sink in haar skoene. Sy dink aan haar outomatiese wasmasjien, tuimeldroër en skoon water wat by die huis vir haar wag. Die vrou stap nader.

Die groot wit bord wys dat die rioolprojek in 2020 begin het. Die huisie is die pompstasie. Foto verskaf

“Mevrou, is jy van die regering? Gaan jy ons help? Wat help dit julle gee vir ons huise verniet, maar ons kan nie bad of die toilet gebruik nie, Mevrou? Die huis is ’n leë dop, nes ons sinkhuis was. Die dak lek wanneer dit reën en daarmee saam ’n tsoenami van rioolvuil, stank, siektes en verdriet.”

“Help ons, asseblief, Mevrou! Help ons!” Die vrou sak neer op haar knieë en huil hartstogtelik.

Mevrou buk af en sê saggies vir haar: “Daar is altyd hoop. Staan op, gaan huis toe. Moenie moed verloor nie.” Terwyl die woorde haar mond verlaat, besef sy: Practice what you preach…

Terwyl mevrou huis toe ry, is sy naar – naar van ontsteltenis, frustrasie, hartseer, woede en hopeloosheid. Wat gaan aan in die wêreld? Hoekom kerm ons almal met die witbrood onder die arm terwyl daar ander is wat steeds in konsentrasiekampe bly? 

‘Hoekom het die lewe vir haar die regte kaarte uitgedeel?’

Hulle hande is afgekap. Hoe moet hul iets probeer regmaak as daar nie eens geld vir kos is nie? Hoe moet hulle hulle omstandighede verbeter as niemand enige beloftes nakom nie? Waar is die mense met die byl wat hulle hande afgekap het? Lafaards!

Verbitter en bekommerd gaan sy huis toe. Sy skink vir haar ’n glasie koue yskaswater. Terwyl sy die water drink, begin sy saggies huil. Haar gedagtes hardloop weg met haar. Hoe kan sy skoon water drink terwyl ander mense in waterlose haglike omstandighede tussen die rioolvuil moet piekniek hou? Hoekom het die lewe vir haar die regte kaarte uitgedeel? Sy verdien dit nie…

Sy skuif voor haar rekenaar in. Al waaraan sy kan dink, is om vir die minister ’n e-pos saam met die foto’s aan te stuur. Dalk word hy hulle held in hierdie hopeloosheid.

Die rioolvuil is stank is ondraaglik vir die inwoners. Foto verskaf

Twee dae ná die e-pos wat sy gestuur het, kry sy terugvoer van die minister se sekretaresse. Die aanhangsel by die e-pos ingesluit, verwys na die riool-en-waterramp op die dorpie. Daar word duidelik gestipuleer dat die probleem onmiddellik opgelos sal word. 

Die plaaslike munisipaliteit en provinsiale amptenare sal tot hulle redding kom en enigiets in hulle vermoë doen om te help. Die mevrou is oorstelp van vreugde en opgewonde om die nuus aan die gemeenskappie oor te dra.

’n Jaar het gekom en nog ’n jaar het gegaan. Wolwe in skaapsklere, manteldraaiers!

‘Dankie dat Mevrou ons ligstraal van hoop geword het’

Die kinders het ouer geword, die rioolvuil meer, die water minder. Wat is hoop? Die verkiesing? Leë beloftes? Sassa-geld? Nog ’n rioolpiekniek?

Haar motor hou weer stil by die “rioolplaas”, die kinders skaterlag en baljaar in die modder, die beeste wei in die lowergroen gras. Die wasgoedvrou staan vrolik vir haar en wag: “Dankie dat Mevrou elke week ons wasgoed was en terugbring. Daardie dag toe Mevrou gesê het dat daar altyd hoop sal wees… Dankie dat Mevrou ons ligstraal van hoop geword het.”

Die prentjie wat voor haar geteken word, raak met elke besoek ál erger en die stank net meer onuithoudbaar, maar die wasgoedvrou se glimlag doof nie uit nie…

‘Waar is daardie byl wat hul hande afkap?’

Die “mevrou” weet dalk nie waar die byl is wat almal se hande afkap nie, maar ons kan mekaar se hande word deur net ’n bondel wasgoed huis toe te vat, in ons outomatiese wasmasjien te was en met liefde terug te gee.

Dis daardie klein dingetjies in die lewe wat die byl verstomp en ’n sprankel van hoop vir ons medemens bring.

OFM Nuus dg/cg/mc

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.