Central SA
Radio: Eeu lank al betroubare bron van inligting─── ZENANDE MPAME 13:57 Tue, 13 Feb 2024
“Dit is ook geselskap vir miljoene Suid-Afrikaners.”
Vandag is Wêreldradiodag (13/2) met die tema: "Radio: 'n Eeu wat inlig, vermaak en opvoed.” Die tema vir hierdie jaar beklemtoon radio se lang geskiedenis en wye verskeidenheid bydraes tot die samelewing.
Radio is steeds die mees gebruikte, maklik beskikbare soort vermaak en inligting vir mense van alle ouderdom in die samelewing. Oor die jare het radio sy posisie as ’n groot verskaffer van nuus, inligting, vermaak en opvoeding bevestig.
Ter viering van Wêreldradiodag het OFM Nuus met die bestuur gepraat oor die belangrikheid van radio.

Radio help om verdeeldheid te oorbrug en gemeenskappe te verenig. Foto: OFM
“Radio is oor die wêreld heen ’n belangrike platform om nuus, kultuur en uiteenlopende standpunte te deel. Van plaaslike gemeenskapsradiostasies tot internasionale uitsaaiers – radio gaan voort om verdeeldheid te oorbrug en gemeenskappe te verenig,” sê Nick Efstathiou, OFM se uitvoerende hoof .
“Kom ons vier Wêreldradiodag, asook die blywende krag van radio om in te lig, te vermaak en te inspireer.” Vir meer as 100 jaar het radio relevant gebly in die tye van koerante, televisie en die digitale era. Radio is intiem of persoonlik omdat dit meestal langs die bed, binne jou huis, in jou hand op ’n selfoon en jou motor gevind word.

Radio het nog altyd ontwikkel en relevant gebly. Foto: pixabay.com
Unesco rig ’n uitnodiging aan die wêreldwye radiobedryf in al sy verskillende vorme – kommersieel, openbaar en nie-winsgewend – om by hierdie unieke en deurslaggewende punt in die medium se eeu lange geskiedenis aan te sluit.
Tim Thabethe, OFM se programbestuurder, het gepraat oor wat radio elke dag vir elke luisteraar doen. “Ek dink die rol van radio is om sy gehoor en gemeenskap, die luisteraar, te weerspieël. En wanneer jy luister, moet dit wees soos om in die spieël te kyk en jou manier van lewe te vier, of dit nou ’n lekker lag, ’n hardop huil of bloot ’n oomblik van nadenke is.”
