Central SA
Vrystaters vier dag van harte op vele maniere─── ELSABÉ DE JAGER 07:05 Wed, 14 Feb 2024
“Kon ek maar vandag vir elkeen wat deel van my lewe is, ’n rooi roos neem en sélf vir hulle vertel hoe kosbaar hulle vir my is.”
Fanie Viljoen, voltydse skrywer, skilder en illustreerder van Bloemfontein, sê ywerige lesers kan op Valentynsdag, bekend as die dag waarop die liefde gevier word, kies tussen romans en liefdesromans om die hart rooi in te kleur.
Wanneer jy jou geliefde wil bederf, is dit nodig om kennis te dra van die onderskeid tussen dié twee. “Al is ’n liefdesroman gewoonlik meer verwikkeld as ’n gewone roman, wentel albei rondom droomverhoudings, in so ’n mate dat ’n leser dikwels op een van die karakters verlief raak,” sê hy.
“Vir ernstige lesers kom niks op hierdie Valentynsdag naby gedigte nie,” beveel Viljoen aan. Twee bundels waaraan hy dadelik dink, vanweë hul verkenning van die verskillende liefdesdimensies, is Mixtape van die liefde met Antjie Krog as samesteller, en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, saamgestel deur Fanie Olivier.

’n Dag om helderrooi in te kleur en die liefde en omgee te vier. Foto: Freepik
“Navorsing toon dat paartjies wat spesiale geleenthede vier, gelukkiger is as dié wat dit nié doen nie”, sê Karen Kemp, eienaar van die Angel Hearts Workshop in Bloemfontein, wat werksgeleenthede bied aan persone met ’n gestremdheid.
Sy en haar man Dirk, ’n algemene praktisyn, is al 33 jaar getroud. “Steeds maak ons midde-in baie besige werkskedules tyd om mekaar te bederf met klein geskenkies, veral op Valentynsdag,” sê sy.
Vir Kemp is dit ook baie belangrik om haar groep werkers by Angel Hearts deel te maak van die liefdesirkel. Tydens die voorbereidingstyd vir hul jaarlikse Valentynsdagmark vind hulle groot vreugde in die maak van vrolike liefdesgeskenkies. In dié tyd word hulle ook bederf deur Kemp en lede van die publiek met verrassingspakkies.
Vir Huibrie du Toit, ’n weduwee van Bloemfontein, hou die viering van Valentynsdag ’n tikkie soet sowel as suur in. Sy het ses jaar gelede haar geliefde Wouter, wat haar “van haar voete af” bederf het, aan die dood afgestaan.
’Dink met dankbaarheid aan elkeen wat op my pad geplaas is’
“Ek dink egter met dankbaarheid aan elkeen, van die Kaap tot Kaïro, wat op my pad geplaas is,” sê dié vrou wat bekendstaan as die een met die “taxi-hart”. Sy vier vanjaar die liefde saam met haar dogter en seuns.
“Kon ek maar vandag vir elkeen wat deel van my lewe is, ’n rooi roos neem en sélf vir hulle vertel hoe kosbaar hulle vir my is,” wens sy. “Intussen stuur ek groete en hoop totdat ons mekaar weer sien.”

Jaco Jacobs se Emma en Mia maak altyd planne om sy vrou op Valentynsdag te bederf. Foto: Facebook
Vir die Bloemfonteinse kinderboekskrywer Jaco Jacobs is dit interessant om die belewing van Valentynsdag by sy twee dogters, onderskeidelik elf en nege, waar te neem. “Vir hulle is dit ’n vrolike dag vol blomme en mooi kaartjies,” sê hy.
Om vir hul maats geskenkies in die geheim te stuur, sorg vir groot pret. Inderwaarheid is dit vir hulle ’n ware maatjiedag. Tog is hulle altyd baie gretig om my toe te gooi met bederf-idees vir my vrou op hierdie dag, soms selfs over the top”, lag hy.
Hetsy op ’n romantiese manier, vriendskapsbetuiging of ’n klein geskenkie vir die kinders, Bloemfonteiners kleur hierdie dag van die liefde steeds, soos elke jaar tevore, in met ’n helderrooi kryt terwyl hulle die stad in bloedrooi harte tooi.
OFM Nuus/Elsabé de Jager cg
