Central SA
Pasiënt van Potch-hospitaal neem sy eie lewe─── HEIDRÈ MALGAS 13:16 Wed, 14 Feb 2024
“Hy was ’n bekende pasiënt wat aan epilepsie gely het.”
’n Pasiënt wat in Saal 3 van die Potchefstroom-hospitaal opgeneem is, het van die derde verdieping van die hospitaal afgespring.
Tebogo Lekgethwane, gesondheidswoordvoerder in Noordwes, het die voorval bevestig en sê Hendrick Mokoto is vir sy postiktale toestand behandel.
“Hy was ’n bekende pasiënt wat aan epilepsie gely het, maar nie by sy behandeling gehou het nie. Hy het gedrink en dagga gerook. Hy het drie agtereenvolgende toevalle op Sondag 4 Februarie tuis gehad, maar is nie hospitaal toe gebring nie.”
‘Hy het deur die klein toiletvenster geklim’
Maandag (12/2) het Mokoto hallusinasies gehad. “Die oggend om 03:00 het hy die verpleegpersoneel gevra of hy kon uitgaan om te rook. Die verpleegsters het gesê hy moet wag tot sonopkoms. Hy het egter in die toilet ingegaan, deur die klein venster geklim en van die derde verdieping afgespring,” sê Lekgethwane.
Hy het erstige kopbeserings en breuke opgedoen. Hy is onmiddellik na die ongevalleafdeling vir noodbehandeling geneem, maar hy is sowat drie uur later dood.
OFM Nuus dg
