On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Verlamde van Bloemfontein baie verlig ná jare lange hofstryd

───   KAREN VAN DER BERG 15:19 Thu, 15 Feb 2024

Verlamde van Bloemfontein baie verlig ná jare lange hofstryd | News Article
Jillian-Joan van der Merwe, ’n enkelma van Bainsvlei in Bloemfontein, het rolstoelrugby begin speel, wat sy baie geniet. Foto verskaf

“Ek was twee maande lank in die hoësorgeenheid in die hospitaal en daarna nog vier maande in ’n rehabilitasiesentrum.”

Sy is net verlig die drama, hofsake en emosionele swaarkry kan nou tot ’n einde kom.

So sê Jillian-Joan van der Merwe, ’n enkelma van Bainsvlei in Bloemfontein, wat byna 15 jaar gelede in ’n motorongeluk was waarin haar nek gebreek het en sy ’n kwadrupleeg gelaat is.

Die LUR vir Paaie in die Vrystaat is onlangs deur die hof beveel om skadevergoeding van R17,5 miljoen aan haar te betaal omdat die ongeluk weens die swak toestand van die pad plaasgevind het.

Jillian-Joan van der Merwe, ’n enkelma van Bainsvlei in Bloemfontein. Foto: Facebook

Van der Merwe vertel sy was op 27 Julie 2009 met ’n werksbakkie op pad terug Bloemfontein toe. Naby die Krugersdriftdam, op die Dealesville-pad, het die bakkie van die pad af gegaan en omgeslaan.

“Dit was geweldige lang en moeilike jare. Ek was twee maande lank in die hoësorgeenheid in die hospitaal en daarna nog vier maande in ’n rehabilitasiesentrum. Ek het met ’n nuwe lyf wakker geword. Dit was baie moeilik met die hofsaak soos ’n swaard oor my kop.”

Jillian-Joan sê sy is regtig verlig dit is verby. “Daar was soveel hekkies om oor te spring en die LUR en die regering het met alle mag teen die hofsaak geveg.”

Hulle het my nooit geken as ’n ma wat kan beweeg nie

Sy het geleer om niemand te vertrou nie en sal die saak nie as afgehandel beskou alvorens die geld in haar rekening wys nie. “Die LUR het gevra of hulle eers die geld aan die einde van die finansiële boekjaar kan betaal.”

Jillian-Joan sê die emosionele impak van die ongeluk en die hofsaak was baie erg. “Veral op my dogters. Hulle was maar drie en vyf jaar oud toe die ongeluk gebeur het. Hulle het my nooit geken as ’n ma wat kan beweeg nie.” Sy sê hulle was al die jare haar inspirasie om voort te veg.

Jillian-Joan van der Merwe saam met haar twee dogters, Kerry-Leigh en Jodie. Foto verskaf

Hoewel die hofsaak afgehandel is, is sy steeds bekommerd oor die toestand van die paaie in die land.

“Die pad van my ongeluk is kort daarna herstel. Maar deesdae is dit in so ’n swak toestand. Ek weet nie hoeveel mense moet nog met hul lewens op ons slegte paaie betaal nie.”

Ek sou dit nie alleen kon doen nie

Nou wil sy eers vir haar en haar kinders ’n mooi toekoms saam bou.

“Ek wil almal, veral my familie, bedank vir hulle ondersteuning al die jare. Ek sou dit nie alleen kon doen nie.”

Jillian-Joan is dankbaar teenoor haar regspan, advv. Johan Mullins (SC) en Joubert Zietsman, en die prokureurs Henry Buchner en Aneen de Wet. “Hulle was my stem toe ek nie kon praat nie.”

OFM Nuus/Karen van der Berg cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.