On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Mangaung-kragvoorsiener se hoof weer by omstredenheid betrek

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:51 Fri, 16 Feb 2024

Mangaung-kragvoorsiener se hoof weer by omstredenheid betrek | News Article
Centlec in Bloemfontein. Foto: OFM Nuus

“Diegene wie se sienings van Sekoboto s’n verskil, word geteiken en op twyfelagtige maniere hanteer.”

(Click for English article.)

Die uitvoerende hoof van Mangaung se kragverspreider, Centlec, word weer onder die soeklig geplaas ná striemende aantygings teen hom.

Beskuldigings het opnuut na vore gekom wat daarop dui dat Malefame Sekoboto betrokke was by nepotisme en na bewering werknemers teiken wat weier om aan sy voorskrifte te voldoen.

’n Anonieme bron sê aan OFM Nuus Sekoboto het einde verlede jaar sy seun en vyf ander familielede gelyktydig aangestel en selfs seker gemaak hy skors amptenare wat hom uitgevra het oor die kortlysprosesse van die aanstellings.

In Oktober het Ishmael Oageng, wat ’n bestuurder onder voorlopige skorsing verteenwoordig het, gesê diegene wie se sienings van Sekoboto s’n verskil, word geteiken en op twyfelagtige maniere hanteer.”

’n Afskrif van ’n e-pos gedateer 1 Desember 2023, wat aan OFM Nuus voorsien is, toon dat die munisipale werkersunie Samwu versoek het om die uitvoerende hoof te ontmoet ná die skorsing van vyf vakbondverteenwoordigers op 28 Augustus 2023.

Vier van die vyf verteenwoordigers is vroeër ook geskors.

In die e-pos word beweer die vakbondverteenwoordigers is geskors vir vyf weke, terwyl Sekoboto sy seun en broerskind as rekenpligtige beampte in diens geneem het. Na bewering is die geskorste verteenwoordigers later aangesê om by die werk aan te meld sonder om eers deur die tugproses te gaan. Die vakbond het ’n beroep gedoen op onmiddellike ondersoeke, maar daar is nooit op die e-pos gereageer nie.

Voorts word Sekoboto daarvan beskuldig dat hy opsetlik vertragingstaktieke met sommige geskorste werkers gebruik het om te verseker dat die tydperk van hul kontrakte tot ’n einde kom, terwyl hy mense strategies plaas in die poste van diegene wat geskors is en albei salarisse vir dieselfde pos betaal, wat lei tot verkwistende uitgawes.

In reaksie hierop het Lele Mamatu, Centlec-woordvoerder, dokumente gedeel wat toon dat een van die werkers wat verlede jaar geskors is, die maatskappy se tugproses deurloop het en die skorsing is vanjaar met drie maande verleng vir verdere ondersoeke.

Ander dokumente wat verskaf is, toon dat van die vakbondverteenwoordigers op 24 November uit die vakbond geskors is en ook nie toegelaat word om die vakbond te verteenwoordig totdat interne tugprosedures afgehandel is nie. Blykbaar het van die lede die vakbond uitgedaag nadat dit tydens die tugverhoor ’n ooreenkoms met Centlec bereik het.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.