Central SA
Duiwemeester van Vereeniging wil wedvlugte nuwe lewe gee─── ELSABÉ DE JAGER 11:39 Mon, 19 Feb 2024

Kommer heers in die wedvluggemeenskap oor dié sport se voortbestaan.
Die sukses wat sy duiwe reeds sedert 1971 in wedvlugte behaal, kom húlle toe, nie hom as hul eienaar nie.
Uit die gesprek met Willie Joubert, duiwemeester van Vereeniging, staan die liefde vir sy duiwe nog stérker uit as sy belangstelling in die wedvlugsport. “Elke duif fassineer my steeds ná al die jare en ek sal alles doen om hulle te beskerm," vertel hy sommer met die intrapslag.
Joubert onthou die dag in 1981 soos gister, toe Patrie, sy kampioenduif, ’n wedvlug vir jaaroud duiwe tussen Colesberg en Walker Fruit Farms gewen het. “Sedert daardie jare al het ek gepoog om my duiwe in nét die beste kondisie te hou, hulle nie té hard laat oefen nie, anders kan hulle nie hul beste lewer tydens die wedvlugte nie.”
Die goeie kondisie van duiwe is van kardinale belang in die voorbereiding vir ’n wedvlug. Foto: Racing Pigeon Sport
Dié duiweman is ook dankbaar vir sy vrou, Mattie, se betrokkenheid by die Unitas wedvlugduiweklub. Mattie, ’n voltydse kunstenaar en aan die stuur van die Vereeniging Art Society, is die sekretaresse van dié duiweklub. “Willie het dié klub gebou in 2012. Nadat dit in 2021 ontbind het, is dit in 2023 heropen,” sê sy.
Kommer heers in die wedvlugduifgemeenskap oor dié sport se voortbestaan. “Die groot meesters is aan’t uitsterf en ons kort jong manne om die waarde van hierdie sport opnuut te besef en die leisels oor te neem,” sê Willie.
Vir Willie Joubet is die samesyn met sy klubvriende en werk met hul duiwe ’n hoogtepunt. Foto verskaf
Hierdie duiweliefhebber, wat pa staan vir 150 wedvlugduiwe en 130 broeiduiwe en wat kan spog met 19 wenners in 2023 se klub- en uniewedvlugte, beskou die stigting van die duiweklub in 2012 en die heropening daarvan in 2023 as die hoogtepunt van sy loopbaan, Hy sê dit is waar hy en sy vriende saam die sport kan geniet." Ook sal die “pragskildery", ’n skepping deur Mattie, altyd een van sy kosbaarste besittings wees.
OFM Nuus/Elsabé de Jager dg