Click on the warning image to view this post
Central SA
Bloemfontein-weermaglid aangekla van erge diereverwaarlosing─── KAREN VAN DER BERG 12:27 Mon, 19 Feb 2024
“Ons hoop op ’n suksesvolle vervolging sodat hierdie mense nooit weer diere mag besit nie.”
Waarskuwing: Die foto's kan sommige lesers ontstel.
’n Weermaglid van Bloemfontein word aangekla van dieremishandeling nadat hy drie honde so erg verwaarloos het dat hul liggaam al begin het om homself te verteer in ’n poging om te oorleef.
Werner Botha, ’n inspekteur by die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV), sê hy sien gereeld diere wat verwaarloos word. “Maar dis van die ergste graad wat ek nog teëgekom het.”
Botha sê die drie honde is in Bob Rogerspark gevind nadat ’n besorgde inwoner die DBV van die honde se toestand laat weet het. Twee van die honde is nog babas.

Die honde is erg verwaarloos en uitgehonger. Foto: Bloemfontein DBV
Die weermaglid het sowat ’n maand gelede getrek en die honde op die eiendom agtergelaat. Twee familielede van die weermaglid het op die perseel agtergebly en geweier om vir die diere te sorg. Hulle word saam aangekla.
“Daar is drie honde op die eiendom gevind. Hulle was al drie erg uitgehonger en verwaarloos. Hulle was met hondemis bedek en is in ’n motorhuis aangehou. Die hele motorhuis was met mis en urine bedek, wat wys dat hulle langer as ’n paar weke in hierdie verskriklik slegte omstandighede aangehou is.”
Dis hartverskeurend om sulke jong hondjies te sien waarvan elke been in hul liggaam uitsteek, sê Botha. Dit is veral die jongste een, van gemengde ras, wat tussen drie en vier maande oud is, wat die ergste gelyk het. Die ander twee is ook van gemengde ras: die een so vier maande en die ander een ongeveer drie jaar oud.

Dit is veral die jongste hond, van gemengde ras, wat verskriklik sleg gelyk het. Foto: Bloemfontein DBV
“Ek wonder hoe moeilik dit vir hierdie arme honde moes wees om sonder kos te oorleef. Dié soort verwaarlosing kom net voor wanneer daar nie toegang tot kos is nie. Hulle rugmurg, heupbene en skelet word letterlik verteer as kos in ’n poging om te oorleef.”
’n Klag van dieremishandeling is Maandag (19/2) by die polisie ingedien, sê Reinet Meyer, senior inspekteur van Bloemfontein se DBV. “Ons hoop op ’n suksesvolle vervolging sodat hierdie mense nooit weer diere mag besit nie.”
OFM Nuus/Karen van der Berg
