Central SA
Bloemfonteiner onder vyf toppresteerders van Aros wat beurse ontvang─── ELSABÉ DE JAGER 11:58 Tue, 20 Feb 2024

Algaande het sy besef dat sy haar graag as ’n remediërende terapeut sou wou bekwaam.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op ’n onlangse glansgeleentheid honneurs-beurse in Leerondersteuning aan vyftopstudente van Aros oorhandig.
Dié private Christelike hoëronderwysinstelling in Pretoria verwelkom vanjaar sy eerste honneurs-groep in dié vakgebied. Die ontvangers is aangemoedig om ná hul honneursgraad ook hul meesters- en doktorsgraad te voltooi.
‘Aros is die plek waar ek moet studeer’
Petro Rörich, ’n Bloemfonteiner, is een van die ontvangers van hierdie gesogte beurs. Sy sê dis altyd vir haar ’n voorreg om oor Aros te praat. “Ek het tydens my hoërskooljare in Pretoria-Noord, vóór my verhuising na Bloemfontein, met Aros kennisgemaak. Dis toe net daar wat ek in my hart besluit het Aros is die plek waar ek moet studeer.
Die Aroskampus is in Montanapark, Pretoria geleë. Foto: Facebook
“Ek het reeds as ’n jong skoolbeginner die klas probeer oorneem (vanweë) my gebore passie om vir iemand iets te leer.” Sy was altyd bereid om haar klasmaats te help met legkaartbou, bordspeletjies en lees. Algaande het sy besef dat sy haar graag as ’n remediërende terapeut sou wou bekwaam.
“Daar is drie aspekte wat my finale keuse op Aros laat val het. Dié onderwysinstelling is trots Afrikaans, Christelik georiënteerd én ek het die geleentheid om na-uurs te studeer.”
‘Dit bewys sy is op die regte toekomspad’
Vir haar is die kans om as assistant-onderwyseres te werk terwyl sy studeer ’n gulde geleentheid om onderwyservaring op te doen. Vir Rörich, wat aan die einde van haar voorgraadse studietydperk as toppresteerder van haar groep aangewys is, was die toekenning net nóg ’n bewys dat sy haarself op die regte toekomspad bevind.
Marilena Steyn, Lanadene de Bruyn, Annaline Richards, Petro Rörich en Zine Oberholzer tydens die toekenningsgeleentheid. Foto verskaf
Rörich sien uit na ’n onderwystoekoms. Sy bestuur ’n remediërende sentrum in Bloemfontein, waar sy saam met haar ouers woon en ook beplan om haar onderwysloopbaan uit te brei. Sy verleen hulp met huiswerk en bied ook ontwikkelingspeletjies aan. Haar grootste doelwit is om soveel moontlik leerders in die grondslagfase op ’n sinvolle wyse toe te rus en voor te berei op hul gr. 4-skooljaar.
“Ons is baie opgewonde met die eerste inname van ons groep B.Ed. (honneurs)studente en wel dan in Leerondersteuning,” sê prof. Kobus Mentz, rektor van Aros. “Drie verdere honneurspesialiserings is ook op die tafel en daar word gretig op die uitslag daarvan gewag. Daar word ook gedink aan die instelling van ’n gedoseerde meestersgraad, wat die nagraadse aanbod nog verder sal vergroot.”
OFM Nuus/Elsabé de Jager dg