On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Klipkerk in Bloemfontein begin nuwe hoofstuk

───   KAREN VAN DER BERG 12:59 Tue, 20 Feb 2024

Klipkerk in Bloemfontein begin nuwe hoofstuk | News Article
Die twee leraars van die Klipkerk is, John Matthews (links) en Tano Bongers. Foto: Corali Fourie

“Die idee is dan regtig om die dienste te gebruik om ’n wyer gemeenskap te bereik en die koninkryk van die Here uit te brei.”

’n Opwindende nuwe era wag vir die bekende Klipkerk (NG Gemeente Bloemfontein-Noord), wat saam met die Engelse Andrew Murray-gemeente hande gevat het vir ’n sterker toekoms saam.

Die aanloop hiervan kom al ’n hele rukkie, sê ds. Tano Bongers, leraar van die Klipkerk. Dit het vir die Andrew Murray-gemeente onmoontlik geraak om alleen voort te bestaan. Hulle gebou is reeds ’n paar jaar gelede verkoop en hulle het die Klipkerk se gebou vir hulle eredienste gebruik.

Hy sê hulle het sterk daaroor gevoel om die gemeente by te staan en dit het sin gemaak dat die twee gemeentes saamsmelt en hande vat om gemeentes groter te maak, albei kante toe. “Die geleentheid het voorgekom en ons kon dit doen.”

Die hoeksteen van die Klipkerk in Aliwalstraat is op 3 Februarie 1923 gelê. Foto: Corali Fourie

Die Klipkerk droom van ’n holistiese bediening waarin die gemeenskap se Afrikaanse en Engelse mense bedien word. “Daar is nou ’n Afrikaanse gesinsdiens en gewone erediens en dan is daar ’n Engelse diens. Die idee is dan regtig om die dienste te gebruik om ’n wyer gemeenskap te bereik en die koninkryk van die Here uit te brei.”

Die Engelse bediening is vars en nuut, sê Bongers, maar almal reageer positief en daar kom deurlopend mense by.

‘Ons is opgewonde vir wat die Here verder met ons wil doen’

Die Klipkerk het in Oktober 1919 van die Bloemfonteinse moedergemeente (Tweetoringkerk) afgestig en vier op 15 Oktober sy 105de verjaardag. Die kerk bly ’n baken van hoop noord van die middestad. “Ons werk steeds sodat dit so kan bly vir ons gemeenskap,” sê Bongers, “maar ook vir enigiemand wat ’n behoefte het om na die Here toe te kom.”

Hy sê hulle sien die werking van die Here in die Gees wanneer hulle sien hoe die gemeente groei. “Ons is opgewonde vir wat die Here verder met ons wil doen en ook die pad wat hy met ons wil stap. Ons glo ook dat hierdie samesmelting deel is van die werking van die Gees.”

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.