Central SA
Ramaphosa magtig ondersoek by Ramkraal in Bloemfontein─── 09:09 Sun, 25 Feb 2024

“Enige bewyse wat dui op kriminele optrede sal na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys word vir verdere optrede.”
Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) is deur president Cyril Ramaphosa gemagtig om bewerings van wanadministrasie, bedrog en korrupsie in die multimiljoenrand Ramkraal-projek te ondersoek.
Die ou Ramkraal-gevangenis in Mangaung in die Vrystaat is ’n historiese terrein wat meer as ’n dekade gelede in ’n provinsiale wetgewerkompleks opgeknap moes word.
SOE-woordvoerder Kaizer Kganyago sê die proklamasie wat deur Ramaphosa onderteken is, laat die eenheid toe om ondersoek in te stel na die sake van die provinsie se Menslike Nedersettings, departemente van Openbare Werke en die Provinsiale Wetgewer.
Kganyago sê die ondersoek het ten doel om vas te stel of staatsfondse onregmatig en nalatig gebruik is.
R120 miljoen is glo vir die projek opsy gesit.
Kganyago sê die ondersoekeenheid sal enige bewyse wat dui op kriminele optrede wat dit tydens sy ondersoeke aan die lig bring, na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys vir verdere optrede.
OFM Nuus cg