Central SA
Jong entrepreneur se ywer inspireer talle─── ELSABÉ DE JAGER 08:24 Tue, 27 Feb 2024

Met die trekslag dorp toe, was sy (Nicolene) bekommerd oor hom, “want in die dorp hou kinders hulself met PlayStations en selfone besig”.
“Ek en my vrou leer ons kinders om te doen dit waarvoor hulle lief is, want dan sal dit vir hulle nooit soos verpligte werk voel nie.”
Steyn en Nicolene Wenke gesels met trots oor Hanro (11), hul oudste spruit, se ywer en liefde vir die lewe. Deesdae staan dié jong man, wat sy eie grassnybesigheid bedryf, nie net in sy tuisdorp Jeffreysbaai nie, maar wyd bekend as ’n sakeman van formaat.
‘Op die plaas was hy altyd op ’n trekker’
“Hierdie oudste van my was nog altyd ’n buitekind. Toe hy ’n baba was, het Steyn hom in ’n drasakkie laat sit terwyl hy die gras op die plaas gesny het. Op vyfjarige ouderdom het ons vir hom sy eerste klein onkruidvretermasjien gegee. Sedertdien was daar geen keer aan hom nie,” lag Nicolene.
Nadat die gesin jare lank in die Tsitsikamma-omgewing geboer het, het hulle onlangs na Jeffreysbaai verhuis. Vir Hanro was dié aanpassing allesbehalwe maklik. “Op die plaas was hy altyd op ’n trekker aan’t boer saam met sy pa.
“Wanneer hy afgeklim het van die trekker, het hy gras gesny,” vertel Nicolene. Met die trekslag dorp toe, was sy bekommerd oor hom, “want op die dorp hou kinders hulself met PlayStations en selfone besig.”
Sy familie staan bankvas agter hom in die uitleef van sy drome. Foto verskaf
Sy ouers se bekommernis was egter van korte duur. Hul nuwe bure bedryf ’n grassnybesigheid en kort voor lank het Hanro veel eerder tyd saam met hulle gespandeer as om die gewone vakansiedinge te doen saam met óns,” lag Nicolene. Hy het weggespring en grasperke begin sny. Aanvanklik wou hy sy dienste aan inwoners van dié kusdorp gratis aanbied.
“Hy moes egter leer dat hy, om sy besigheid winsgewend te maak, teen betaling sal moet werk om sodoende vir hom ook nuwe gereedskap aan te koop,” sê Steyn.
Hanro vertel blinkoog van die vreugde toe hy sy eerste R100-noot vashou. “Dis tóé dat ek besef ek kan régtig geld hiermee verdien, tannie!” Hy spog deesdae ook met sy nuutste toevoeging, sélf gekoop – ’n grasblaser wat die opruimproses na ’n snysessie veel makliker maak.
As kleuter het hy reeds met ’n onkruidvreter gewerskaf. Foto verskaf
Dié jong sakeman is vasbeslote oor wat hy wil doen wanneer hy groot is. “Ek wil ’n boer word. Ek wéét hoe om trekker te ry, diere te voer en bossies te kap,” laat hy selfversekerd hoor. Een ding staan soos ’n paal bo water, hy sal altyd die ondersteuning van sy ouers geniet.
“Maar nou moet hy eers aandag gee aan dit wat hy móét doen, sy skoolwerk en sy sportverpligtinge. Wanneer dit smiddae afgehandel is, kan hy grassny en droom oor sy toekoms,” sê sy ma.