On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Hulp stroom in uit alle oorde vir erg beseerde Marioné

───   KAREN VAN DER BERG 13:46 Wed, 28 Feb 2024

Hulp stroom in uit alle oorde vir erg beseerde Marioné | News Article
Marioné van Deventer en haar man, Sybrand, was verlede week vier jaar getroud. Foto verskaf

“Af en toe is daar klein bietjie bewegings en sy het selfs ’n paar geluide begin maak.”

“Die een oomblik was sy ’n aktiewe netbal- en tennisspeler wat hul eersteling verwag, en die volgende oomblik het sy baie ernstige breinbeserings opgedoen.”

So sê Burre Burger, van Droogtehulp SA, wat help om geld in te samel vir ’n Vrystaatse vrou wat verlede jaar ernstige breinbeserings in ’n motorongeluk opgedoen het.

Marioné van Deventer (25), van Reitz, word sedert Desember in die Hillandale-rehabilitasiesentrum in Bloemfontein versorg. Sy en haar skoonma, Adri van Deventer, en dié se broer, Jaco Oosthuizen, was saam op 3 September in ’n ongeluk toe hulle met Jaco van Reitz na die Hoogland Mediclinic op Bethlehem gehaas omdat hy in ’n veldbrand beseer is. ’n Band het gebars en die voertuig het in die veld gerol.

Marioné van Deventer (25)  is verlede jaar ernstig in ’n motorongeluk beseer en word in die Hillandale-rehabilitasiesentrum in Bloemfontein behandel. Foto verskaf

Marioné het benewens die ernstige breinbesering haar en haar man, Sybrand, se ongebore baba verloor. Die egpaar was verlede week vier jaar getroud.

Sy was drie maande in ’n koma. Sy het ook haar skedel en sleutelbeen gebreek, en haar pelvis, bekken en heup het ’n fraktuur opgedoen. Haar ribbes was ook gebreek en dit het in haar longe gesteek.

Burger sê Marioné se storie het hom besonders diep geraak omdat hy besef dat ’n mens se lewe in ’n oogwink kan verander.

Marioné van Deventer se mediese fonds is vandeesmaand reeds uitgeput. Foto verskaf

’n Fonds is gestig om Marioné se onkoste van haar rehabilitasie te help betaal. Haar mediese fonds is vandeesmaand reeds uitgeput. Droogtehulp het reeds R50 000 vir die insameling geskenk.

Steyn Lombard, Marioné se pa, wat by Dealesville boer, sê dit gaan onder omstandighede goed met haar. Sy haal self asem. “Af en toe is daar klein bietjie bewegings en sy het selfs ’n paar geluide begin maak. Maar sy kan nie beweeg, praat of sluk nie. Sy kry nog buisvoeding.”

Die pad vorentoe is nog onbekend maar die familie wil haar so lank as moontlik in rehabilitasie hou. “Sy vorder goed daar. Sy kry baie goeie behandeling.”

Marioné van Deventer. Foto verskaf

Lombard sê dit bly ’n verskriklike moeilike tyd vir hulle. Dit is hartverskeurend om haar so te sien. “Ons is baie dankbaar oor al die ondersteuning. Daar is soveel mense wat help om geld in te samel. Dit is regtig ’n groot riem onder die hart.”

’n Spesiale rolstoel, met ’n nekstut, is deur iemand in Pretoria geskenk. “Sy kind was in dieselfde tipe ongeluk en hy wou dit graag vir ons leen.”

Hy het ook die Reitz-vrouevereniging bedank wat ’n rukkie gelede ’n groot insameling gehou het. Op 9 Maart is daar op Dealesville ’n perdeplesierrit op die plaas Vredeshoek ten bate van haar. Die sangeres Riana Nel het ook ’n lied vir Marioné en Sybrand geskryf.

OFM Nuus/Karen van der Berg


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.