On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Jong man van Drie Riviere se toekoms onseker ná ongeluk

───   KAREN VAN DER BERG 10:39 Wed, 06 Mar 2024

Jong man van Drie Riviere se toekoms onseker ná ongeluk | News Article
Aidan Roos het sy gesig op vyf plekke gebreek in ’n ongeluk. Sy drome om as waaghals toertjies op sy motorfiets in China te doen, is nou verpletter. Foto verskaf

“Toe ons hom sien, het ons geweet daar is groot fout. Ons moes hom dringend by ongevalle kry.”

’n Jong man van Drie Riviere in die Vaaldriehoek, wat onlangs sy gesig op vyf plekke gebreek het, sterk tuis aan terwyl sy drome om as ’n waaghals motorfietstoertjies uit te voer vir eers verpletter is.

Aidan Roos (19) was op 9 Februarie by die River Walk-inkopiesentrum in Drie Riviere om ’n wegneemete by ’n soesji-restaurant af te haal. Sy ma, Roeline Botha, vertel dit het gestortreën. Nadat hy die kos gekry het, het hy op die steil opdraande voor die restaurant gegly en met sy gesig op die hoek van die handreling geval.

“Aidan het my gebel en gesê, ek moet gou kom,” vertel sy. Hy kon glad nie opstaan nie en het met tye bewusteloos geraak. “Hy het ook vir my gesê hy het seker al tien keer oor sy gesig gevryf en dit voel of daar bloed is. Daar was geen bloed nie.”

Sy drome om as waaghals toertjies op sy motorfiets in China te doen, is nou verpletter. Foto verskaf

Roeline, en haar man, Lee – Aidan se stiefpa – het onmiddellik na hom toe gery. “Toe ons hom sien, het ons geweet daar is groot fout. Ons moes hom dringend by ongevalle kry.”

Sy sê dit het ’n rukkie geduur weens al die oproepe na die mediese fonds, maar uiteindelik is hy opgeneem. “Hy was vreeslik in skok en het soos ’n riet gebewe.”

Met skanderings is vasgestel Aidan het sy gesig glo op vier plekke gebreek. Die spiere in sy gesig en die senuwees in sy oog, is ook beskadig.

Ná die operasie het die dokter bevestig Aidan se gesig was op vyf plekke gebreek, nie vier nie. Foto verskaf

Sy was baie verbaas toe die hospitaalpersoneel en die dokter hulle aangeraai het om hom huis toe te neem. “Hulle het gesê hulle kan niks verder vir hom doen nie, die swelling moes eers sak voordat hulle op hom kon opereer.” Hy was die hele naweek by die huis, in afwagting op ’n operasie om sy gesig te herstel.

“Hulle het ons toe ná die naweek in kennis gestel dat die mediese fonds nie magtiging wil gee vir die operasie nie. Daar was baie verskonings, maar een daarvan was omdat Aidan ontslaan is.”

Roeline vertel hulle moes self R136 000 opdok om vir die operasie te betaal. Die operasie het toe op 19 Februarie plaasgevind.

Hy sou in Maart in China gaan ry het om waaghalstoertjies daar te doen. Foto verskaf

“Ná die operasie het die dokter bevestig Aidan se gesig was op vyf plekke gebreek, nie vier nie. Daar is ’n plaat in die oog gesit. Daar is ook in sy mond gewerk.”

Roeline sê hulle is dankbaar dat hulle die geld kon insamel. Maar ongelukkig is sy toekomsplanne vir eers in die weegskaal. Aidan is ’n passievolle, lewenslustige jong man. Sy stokperdjie is motorfietsry.

“Hy sou in Maart in China gaan ry het om waaghalstoertjies daar te doen. Maar vir nou gaan hy glad nie op ’n motorfiets kan klim nie. Sy drome is verpletter.”

OFM Nuus/Karen van der Berg cg



@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.