Central SA
Sol Plaatje laat spat met implementering van waterinfrastruktuurplan─── 13:39 Wed, 06 Mar 2024
Drie kontrakte van R88,26 miljoen is toegeken vir die installering van noodwatermeters asook ’n vloei-en-gehaltemoniteringstelsel; noodherstelwerk aan lekkasies… en die installasie van ’n nuwe watersuiweringsaanleg.
Sol Plaatje-munisipaliteit het drie kontrakte van R88,26 miljoen toegeken vir die installering van noodwatermeters asook ’n vloei-en-gehaltemoniteringstelsel; noodherstelwerk aan lekkasies, wat as topprioriteite geïdentifiseer is, en die installasie van ’n nuwe watersuiweringsaanleg.
Bouwerk het begin en die herstelwerk aan drie lekkasies is reeds voltooi, het Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder, vanoggend op ’n mediakonferensie gesê. Hy het terugvoer gegee oor die implementering van die Nasionale Tesourie se begrotingsfasiliteit vir infrastruktuurprogram (BFI).

Die Newton-reservoir in die Sol Plaatje-munisipaliteit.
Die doel van die projek, waaraan R2,5 miljard oor die volgende sewe jaar bestee sal word, is om probleme met die instandhouding van die Noord-Kaap se waterskaffingsinfrastruktuur op te los.
Mothibi sê die werk wat tans by die Riverton-suiweringsaanleg gedoen word om waterproduksie te verbeter vorder fluks. Wateronderbrekings sal egter ten spyte van die herstelwerk aanhou opduik. Die munisipaliteit beloof om verbruikers deurentyd vooraf formeel in kennis te stel.

Die DA was in Februarie 2021 by die Riverton-suiweringsaanleg vir ’n oorsigbesoek. Foto: DA
Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap het in 2021 die Sol Plaatje-munisipaliteit se versuim gekritiseer om Kimberley-inwoners van water te voorsien aangesien die waterkrisis volgens die DA grootliks veroorsaak word deur ’n gebrek aan beplanning.
Mothibi het die geleentheid gebruik om die munisipaliteit se dankbaarheid uit te spreek vir die begrip van die gemeenskap en hul waardering vir die ondersteuning van rolspelers, wat help om die mikpunt van standhoudende watertoevoer te verwesenlik. “Terwyl ons inwoners se begrip waardeer, aanvaar ons egter nie hul geduld as vanselfsprekend nie,” het hy bygevoeg.
