Central SA
‘Departement oorreageer, geen griepuitbreking op Philippolis’─── KEKELETSO MOSEBETSI 12:56 Fri, 08 Mar 2024
“Dit was nie nodig vir die Departement van Onderwys om daardie skole te sluit nie, want daar is geen uitbreking op Philippolis nie, nie in enige area van ons provinsie nie.”
Die onlangse besluit deur die Vrystaatse Onderwysdepartement om skole op Philippolis in die Suid-Vrystaat te sluit weens ’n beweerde uitbreking van griep B en verkoue het skerp kritiek teen die LUR vir Gesondheid ontlok.
Volgens die LUR Mathabo Leeto het ondersoeke wat deur gesondheidsbeamptes op Philippolis gedoen is, geen bewyse van ’n griepuitbreking in die gebied aan die lig gebring nie, wat twyfel laat ontstaan oor die noodsaaklikheid van die skoolsluitings.
“Toe die Departement van Onderwys opmerk leerders het griepsimptome, het hulle paniekerig geraak en besluit om die skole te sluit en ’n verklaring uitgereik. Maar ons span in die Xhariep-distrik het wel hul werk gedoen deur saam met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes te werk.”
“Beamptes het bevestig dat dit die enigste simptome van griep was; dit was nie nodig vir die Departement van Onderwys om daardie skole te sluit nie, want daar is geen uitbreking op Philippolis nie, nie in enige area van ons provinsie nie.”
Howard Ndaba, provinsiale onderwyswoordvoerder, het bevestig twee skole is op Philippolis gesluit, met verwysing na 6 van 96 leerders in die hospitaal nadat hulle positief getoets het, maar Leeto het gesê sy is nie bewus van hierdie inligting nie en sal met die onderwysdepartement moet oorleg pleeg.
Ndaba het gesê die sluiting van die Laerskool Philippolis en Bergmanshoogte is vanaf 7 Maart bewerkstellig en leerlinge word eers op 13 Maart terug verwag. Dis om leerders in staat te stel om in kwarantyn te gaan en sodat die skoolterreine ontsmet kan word.

Leeto het egter gesê dit is nie nodig nie aangesien die simptome wat op Philippolis waargeneem is, dié van ’n normale griep was. Sy het herhaal dat dit nie nodig is vir die departement om skole te sluit en leerlinge huis toe te stuur nie.
Sy het gesê die departement sal voortgaan om leerders fyn dop te hou, maar het ’n beroep op die publiek gedoen om nie paniekerig te raak nie.

