Central SA
Welkomse onderwyser tree af ná 41 jaar─── HEIDRÈ MALGAS 11:36 Mon, 11 Mar 2024
“Klasgroottes het aansienlik toegeneem, wat dit moeilik maak vir onderwysers.”
Dries Marais, ’n onderwyser van die Primêre Skool St Helena in Welkom, het op 29 Februarie ná 41 jaar afgetree.
Hy het op 1 Januarie 1983 by St Helena Primêr begin werk en is in 1989 bevorder tot departementshoof en in 2012 tot adjunkhoof. Hy het van Julie 2022 af as skoolhoof waargeneem.
Hy was 40 jaar lank Afrikaansonderwyser – dié taal is sy groot passie. Dit was vir hom hartseer om te sien hoe min kinders werklik waardering vir hul taal het. Hy wou al die kinders, ongeag hul moeder- of onderrigtaal, inspireer om ’n liefde vir Afrikaans te ontwikkel.

Mark Shuttleworth se besoek was vir Dries Marais ’n hoogtepunt. Foto: Wikipedia
’n Hoogtepunt vir hom was toe Mark Shuttleworth, die eerste Suid-Afrikaner in die ruimte, die leerders toegespreek en hulle geïnspireer het om meer belang te stel in die wetenskap.
“Elke skool beleef daagliks spesiale oomblikke (soos ’n kind wat skielik blom), wat dikwels deur die breër gemeenskap misgekyk word, maar waarvan die personeel die ware waarde besef,” sê Marais.
In sy vroeë onderrigjare was onderwys sterk boekgeoriënteerd, waarna Uitkomsgebaseerde Onderwys (UGO) ingestel is, wat meer op die kind toegespits was. Nou volg skole egter metodes wat in ander lande suksesvol is, maar wat dalk nie altyd die Suid-Afrikaanse kind se omstandighede in ag neem nie.
‘Handhawing van dissipline is moeilik’
“Klasgroottes het aansienlik toegeneem, wat dit moeilik maak vir onderwysers en vir die handhawing van dissipline.”
Sy grootste prestasie was om kinders af te rig wat op provinsiale en nasionale vlak uitgeblink het. Sy raad aan ander en nuwe onderwysers is: “Byt vas; die eerste 20 jaar is die moeilikste! Fokus op dit wat jy moet doen.”
Een van sy inspirasies, terwyl hy nog skoolgehou het, was ’n dame wat in die biblioteek gewerk het en elke oggend reeds om 06:00 by die skool was. Sy het nooit gekla nie en haar werk altyd met ’n glimlag gedoen. Hy het dikwels gewens hy kon soos sy gewees het.
‘Onderwys het my geleer om standvastig te wees’
“Onderwys het my geleer om standvastig te wees en om beskeie te bly. Dit is altyd ’n uitdaging om met onredelike ouers te werk,” sê Marais.
Hy beplan nie om binnekort weer by onderwys betrokke te raak nie. Hy oorweeg dit om later betrokke te raak by ’n organisasie wat dierewelsyn bevorder. Hy sien veral uit na die vryheid om te doen wat hy wil, wanneer hy wil, sonder om deur die skoolklok beheer te word.
OFM Nuus/Heidrè Malgas
