Central SA
Kimberley kry sy eie teologiese kweekskool─── 11:50 Tue, 12 Mar 2024
Die idee van die teologiese skool is voor sy dood deur aartsbiskop Desmond Tutu geseën.
Kimberley se splinternuwe, interkerklike kweekskool is gemik op predikante, pastore en kerkleiers wat nie hoë klasgeld kan bekostig nie en wat nie die geleentheid het om teologiese kolleges en universiteite elders by te woon nie. Die bestuur beloof om dit bekostigbaar te hou.
VDR Mabija Theological Seminary se eerste personeelvergadering is Vrydag (8/3) in die Reneilwe-dagsorgsentrum gehou. Die kweekskool is geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding om kursusse in Teologie aan te bied.

Prof. Vuyani Mabija. Foto verskaf
Die vakke wat aangebied sal word, is onder meer Ou Testament, Nuwe Testament, Hebreeus en Grieks, Sistematiese Teologie, Musiekberading, Bybelse Teologie, Hermeneutiek en Praktiese Teologie. Studie sal lei tot Sertifikate en Diplomas, en later ook baccalaureus-, meesters- en doktorsgrade. Klasse word aangebied in die dagsorgsentrum, Etshowestraat 161, Galeshewe.
Op die eerste bestuursvergadering is die CV’s en kwalifikasies van dosente en personeellede ingedien. Prof. Vuyani Mabija het aangedui dat die kweekskool ’n kanselier gaan aanstel. Hulle het reeds ’n kandidaat geïdentifiseer en is besig met die laaste reëlings voor ’n formele aanstelling gemaak word. Hy het bygevoeg die idee van die teologiese skool is voor sy dood deur aartsbiskop Desmond Tutu geseën.

Prof. Vuyani Mabija. Foto verskaf
Mabija, wat die kweekskool begin het, doseer al langer as 20 jaar in ’n Anglikaanse teologiese seminarium. Hy is betrokke as ’n dosent en bestuurslid van die CETM College of Theology in Benin City, Nigerië, waar hy klasse deur middel van Zoom doseer.
• Enigeen wat daarin belangstel om Teologie te studeer, kan Mabija kontak by 078 408 4078 of dr. F. Malo by 073 366 0761.
