On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Watervlak in Hartswaterkanaal drasties verlaag ná verdrinking

───   14:42 Thu, 14 Mar 2024

Watervlak in Hartswaterkanaal drasties verlaag ná verdrinking | News Article
Die watervlak in die Hartswaterkanaal is met 30% verlaag. Foto: Vaalharts-waterverbruikersvereniging

“Die hoek van die wal is dikwels te steil vir mens of dier om sonder hulp uit die kanaal te klim.”

Die Vaalharts-waterverbruikersvereniging het die watervlak in die Hartswaterkanaal met 30% verlaag nadat ’n man daarin verdrink het.

Die vereniging sê die man, wie se naam nie bekend gemaak is nie, se hengelgerei het Dinsdag (12/3) in die kanaal geval. Hy het dit probeer uithaal, maar het ingeval en verdrink. Sover bekend kon polisieduikers nog nie sy lyk opspoor nie.

Die Departement van Water en Sanitasie, in samewerking met die munisipaliteit, sal die situasie fyn dophou om voortgesette watervoorsiening aan gemeenskappe te verseker, sê Wisane Mavasa, DWS-woordvoerder. Inwoners word versoek om visvang by die kanale te vermy weens die gevare daaraan verbonde.

Die Hartswaterkanaal. Foto: Vaalharts-watergebruikersvereniging

In reaksie op ’n Facebook-inskrywing oor die voorval, sê JE Kock, ’n siviele ingenieur, dat besproeiingskanale van die “gevaarlikste” infrastruktuur is. “Ingenieurs ontwerp die wal om die hidrouliese wrywing van die vloei van water te optimaliseer. Die hoek van die wal is dikwels te steil vir enige mens of dier om sonder hulp daaruit te klim.”

Volgens die Vaalharts-waterverbruikersvereniging se webtuiste is die vereniging in 2001 gestig om die Vaalharts-besproeiingskema namens die DWS te bedryf en in stand te hou. 

Die skema beslaan meer as 39 000 ha onder besproeiing en bestaan uit meer as 1 000 km kanale wat met beton uitgevoer is. Dit is die grootste besproeiingskema in die Suidelike Halfrond.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.